AAN jou Kant is die afgelope paar weke oorval met navrae oor die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming, wat sedert 1 April in werking is.
Verskeie lesers het gevra of kontrakte wat vóór 1 April 2011 gesluit is, ook aan die Wet onderhewig is. Ongelukkig nie – net kontrakte wat ná 1 April gesluit is.
Noeline Vermaak, Weslander-leser, se vraag oor die term, “terwyl voorraad hou”, spruit uit ’n Huisgenoot-artikel op 31 Maart 2011, “Uitbuiters, jul dae is getel”, waarin staan dat ’n geadverteerde produk beskikbaar moet wees, of die winkel moet iets soortgelyk teen dieselfde afslagprys aanbied.
Vermaak wou weet of “terwyl voorraad hou” dan die winkel vrywaar? Nie heeltemal nie. Die wet verwys na bait marketing.
Winkels mag nie goedere adverteer teen ’n spesifieke prys indien dit nie in die winkel beskikbaar is nie, maar daar mag wel ’n beperking geadverteer word, solank die spesifieke beperking aangedui word.
’n Paarliet het gevra oor die bepaling dat ’n verbruiker ’n kontrak kan beëindig indien hy of sy nie gelukkig is met die diens wat hulle kry nie?
Ja, maar sekere voorafbepaalde en ooreengekome boetes kan verhaal word. Geen kontrak kan sonder meer gekanselleer word nie.
Die Wet maak voorsiening vir ’n afkoelperiode van vyf sakedae nadat ’n kontrak met direkte bemarking gesluit is. Verbruikers hoef in hierdie tydperk nie ’n rede te gee of boetes te betaal omdat hulle die kontrak kanselleer nie.
Verskaffers moet binne 15 dae nadat die kontrak gekanselleer is, die verbruiker se geld terugbetaal - die volle bedrag.
Kobus du Plessis, eienaar van ’n geskenk-winkel, vra: “Indien ek ’n handsak, met geen waarborg op, aan ’n klant verkoop en sy bring dit eers na twee maande terug, wat is my reg as handelaar?”
Die klant het glo onder meer haar pistool, wat dooie gewig is, daagliks in die handsak gedra.
Handelaars word beskerm teen verbruikers wat sonder rede besluit om ’n produk te kom teruggee. In dié geval sal dit afhang van die toestand van die handsak – ’n mens sou verwag dat ’n handsak se knip langer as twee maande moet hou, maar as die skouerband breek omdat iets swaar daarin rondgedra word, kan die handelaar nie verantwoordelik gehou word nie.
Laastens moet verbruikers leer om te staan op hul regte.
Kla hier: Wes-Kaapse Verbruikersakekantoor, 021 483 4235, 021 483 3483; Nasionale Verbruikerskommissie, 086 026 6786, faks 086 151 5229, ncc@thedti.gov.za; Medies (Raad vir Mediese Skemas, 0861 123 267, 012 431 0500, information@medicalschemes.com, medicalschemes.com; Motors (Ombudsman vir die Motorbedryf, 012 841 2945, mi.ombudsman@netactive.co.za, miosa.co.za); SA Buro van Standaarde, 012 428 7911 (sabs.co.za).
As jy ’n saak het, e-pos ’n opsomming na aanjoukant@media24.com.