Sanlam Kanker-uitdaaggholf die naweek
2011-05-12
GHOLFSPELERS van die Paarl en Wellington kry Saterdag (14 Mei) hul groot kans om te kwalifiseer vir Suid-Afrika se grootste amateur-sportgebeurtenis, die Sanlam Kanker-uitdaagreeks. Dis ook hul enigste kans. Wellington Gholfklub het vroeër vandeesweek bevestig dat daar nog heelwat plek is vir spelers wat wil deelneem. Skakel 021-873-1919 vir meer inligting. Paarl Gholfklub het nog plekke in die middagveld beskikbaar. Skakel 021-863-1140 vir meer besonderhede. Vir amateurs is die plaaslike Sanlam Kankerdag die eerste tree op pad na Sun City waar die eindronde van die uitdaagreeks in Oktober vanjaar afgehandel word. Die wenners in die onderskeie afdelings dring deur na die streekeindrondes, wat van Augustus tot September gespeel word. Die kwalifiseerders daar gaan Sun City toe – sonder dat dit hulle ‘n sent gaan kos. ’n Raps meer as 37 000 amateurs het aan 2010 se Sanlam Kanker-uitdaagreeks deelgeneem. In die 800 klubtoernooie en 32 streekeindrondes is R2,5 miljoen vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) ingesamel – en sedert 1993 het dié toernooi meer as R23 miljoen in die stryd teen kanker geïn. “Die groot wortel voor die neus van enige amateur is die geleentheid om op twee van die wêreld se beste gholfbane te speel,” sê Gary van Loggerenberg, borgskapbestuurder van Sanlam.
More
News
|