Lang tronkstraf vir 21-jarige Paarliet
2005-10-20
NEGE jaar lank was Cheslin Paulse gereeld aan die verkeerde kant van die gereg in die Paarlse polisiestasie en die landdroshof.
Verlede week is hy in die jaar van sy mondigwording in die streekhof vir 21 jaar lank tronk toe gestuur.
Paulse, van Groenheuwel, het ’n skrikbewind gevoer, het landdros Annamarie Immelman bevind.
“Iemand met só ’n rekord hoort nie op straat nie. Die breë gemeenskap moet beskerm word.”
Met dié swaar vonnis is die wrede aanval verlede jaar op ’n bejaarde winkelier in die Paarlse Hoofstraat afgesluit.
Dorothea Schultz (74) was alleen in The Gables oudhedewinkel toe sy op 4 Julie met ’n hamer aangeval en in die gesig geskop is.
Haar kunsgebit het op die bloedbesmeerde houtvloer van die winkel bly lê, met omgekeerde meubels wat van die aanval getuig het.
In ’n verklaring het die erg beseerde vrou aan die ondersoekbeampte vertel hoe ’n man by die winkel aangekom het en ’n stoel vir sy bejaarde moeder wou koop.
Sy kon hom nie help nie, maar hy het minute later met R30 in die hand teruggekeer en wou steeds ’n stoel koop.
Die verdagte het voor haar in die winkel ingestap en rondgekyk.
“Hy het my skielik aan die keel gegryp en begin wurg,” het die slagoffer gesê.
Toe sy later haar bewussyn herwin het, was die skoongeskeerde jong man in die blou oorpak vort.
Schultz is met ernstige oogbeserings, ’n geskeurde oor en skoenmerke oor haar blougetrapte en bebloede gesig na ’n hospitaal gehaas.
’n Digitale kamera en R500 kontant is gebuit.
Cheslin is op grond van vingerafdrukke skuldig bevind op poging tot moord, roof en diefstal en onderskeidelik tot tien jaar, nog tien jaar en 12 maande gevonnis.
Cheslin het sedert 1996, toe hy 12 jaar oud was, gereeld met die gereg gebots. Die aanklagte het begin by diefstal en huisbrake, toe aanranding en roof, die besit van dagga en verkragting, en toe poging tot moord.
Buite die hof het sy ouers en broer verslae bly staan.
“Ons is baie geskok,” het sy moeder Berenice gesê.
“Cheslin se pa is in 1994 gevonnis vir messteek en toe moes ek vier seuns self grootmaak. Cheslin se jonger broer is ’n paar jaar gelede deur bendelede vermoor, en nou dit.”
* A 21-year-old has been sentenced to 21 years for the attack on an elderly shopkeeper.
More
News
|