Matrikulant benodig ’n nieroorplanting
2011-05-12
Liezl Davids
DIE meeste matrikulante konsentreer in hul matriekjaar op hul studies, kuier saam met vriende en geniet die matriekafskeid, maar vir Valentina Adams is dinge anders. Valentina, ’n leerder van New Orleans Sekondêre Skool, se nierprobleme lê soos ’n donker wolk oor die jaar waarna sy so uitgesien het. Volgens haar ma, Helen Carolissen, het Valentina lankal probleme, maar dokters het eers in Oktober vasgestel dat haar niere nie reg funksioneer nie. “Sy het gedurig gekla dat haar kop pyn en dokters het haar maar net pille gegee. Sy het ook vir ’n jaar lank epileptiese aanvalle gekry voor dokters uitgevind het dat haar niere nie reg werk nie,” het Carolissen gesê. Volgens haar het dokters vasgestel dat slegs een van Valentina se niere met 10% werk. Die Carolissen-gesin hoop nou dat Valentina so gou moontlik ’n nieroorplanting kry. Carolissen het gesê dat indien haar dogter nie voor Juniemaand ’n nieroorplanting kry nie, sy op dialise geplaas moet word tot sy ’n geskikte nier ontvang. Valentina sal dan vir drie dae ’n week vir vier ure elke dag Tygerberg Hospitaal toe moet gaan. Nie een van Valentina se onmiddellike familielede is ’n geskikte kandidaat vir ’n nierskenking nie en dus doen hulle ’n beroep op lede van die publiek om vir haar ’n nier te skenk. Die geskikte kandidaat se bloedgroep moet A-positief of O-positief wees en die skenker moet ’n gesonde leefstyl handhaaf. Valentina is een van vyf kinders en het ’n liefde vir haarstilering. Sy luister ook graag na musiek, maar is deesdae gedurig moeg en wil net slaap. “Daar kom dae wat sy niks lekker is nie en dan is daar weer dae wat sy weer goed voel.” Elke maand pendel Valentina en haar ma na Tygerberg Hospitaal vir roetine-toetse. Haar bloed word dan getrek om te kyk hoe haar een nier nog funksioneer. Volgens Carolissen sal hulle gesin nie die finansiële las kan dra as Valentina op dialise geplaas word nie. Nadat haar man in 2007 verlam is, moes sy noodgedwonge haar werk los om hom tuis te versorg. “Dit is my begeerte dat sy so gou as moontlik ’n geskikte nier ontvang.” Enigeen wat vir Valentina wil help, kan haar ma skakel by 082-671-2308. ’n Bankrekening is oopgemaak vir diegene wat donasies wil maak. Die rekeningnommer is 9259876689 (Absa), takkode 632005, en die verwysing is Valentina Nieroorplanting. * Volgens die Organ Donor Foundation is daar tans meer as 3 500 mense in Suid-Afrika wat vir ’n orgaanoorplanting wag. Indien jy ’n orgaanskenker wil word, kan jy hul kontak by 0800-22-66-11 of besoek www.odf.org.za. Daar is geen kostes aan verbonde nie.
More
News
|