Kind bestaan na 'n jaar en 'n half nog nie
2011-05-12
’n JAAR en ’n half ná die geboorte van ’n plaaslike kind, bestaan hy nog nie wettiglik nie, aangesien sy geboortesertifikaat al twee keer verkeerdelik uitgereik is. Nou sit sy ouers, André en Elizma Abbott, met die hande in hul hare, omdat hulle al verskeie kere hul seun se geboortesertifikaat benodig het om sy bestaan te bevestig. André vertel dat ná Dewan se geboorte by Paarl MediClinic, het sy vrou persoonlik al hul seun se besonderhede ingevul op die vorm vir die Departement van Binnelandse Sake wat aan haar voorsien is. ’n Week later is André na hul kantore in die Bergrivier Boulevard om die sertifikaat af te haal, maar die besonderhede daarop was foutief. “Ek het dit onmiddellik onder hulle aandag gebring. Hulle het gesê dat hulle dit sal regstel.” En so het die maande verbygegaan, met talle vrugtelose oproepe en besoeke aan Binnelandse Sake. Maar niemand kon genoegsame antwoorde aan die Abbotts gee oor hul seun se geboortesertifikaat nie. Drie maande later het hulle vir André aangeraai om self die hoofkantoor in Pretoria te skakel, maar steeds was daar nie lig aan die einde van die tonnel nie. “Net voor Dewan se eerste verjaarsdag het Pretoria my ingelig dat ek ’n bykomende bedrag sal moet betaal vir die veranderings op die geboortesertifikaat. Ek het volstrek geweier aangesien dit ’n regstelling van hulle kant af was en nie ’n verandering soos hulle aan my verduidelik het nie.” Hierna moes André weer na die plaaslike kantore van Binnelandse Sake gaan en weer dokumentasie invul, aangesien hulle nie die oorspronklike vorm kon vind nie. En so het hulle weer gewag, oor en oor navraag gedoen en weer gewag, maar geen nuus is ontvang oor hul seun se geboortesertifikaat nie. “Uiteindelik is ons verlede maand gekontak met die nuus dat die sertifikaat gereed is vir afhaal. “Maar toe my vrou daar aankom, was sy stomgeslaan om te sien dat Dewan se naam verkeerd gespel is.” En so sit klein Dewan vandag nog sonder identiteit en sy ouers sit steeds met hul hande in hul hare. * A year and a half after the birth of a boy, the Department of Home Affairs has still not been able to issue his correct birth certificate.
More
News
|