Rugbyspeler gaan nie lê na erge besering
2011-05-12
’n OUD-LEERDER van Hoërskool Labori het verlede week ’n deurslaggewende oorwinning behaal, toe hy die hofsaak gewen het in die Kaapse Hooggeregshof teen ’n rugbyspeler wat hom ernstig beseer het in ’n skole-rugbywedstryd. Ryand Hattingh (25) het ’n nekfraktuur opgedoen in 2005 tydens ’n skrum in ’n wedstryd tussen Labori en Hoërskool Stellenbosch. Hattingh het in hofstukke beweer dat Alex Roux, toe ’n haker van Hoërskool Stellenbosch sy besering veroorsaak het deurdat hy sy kop regstreeks teen Hattingh se nek laat bots het. Ná die voorval is hy gedeeltelik gestremd gelaat weens verswakte ledemate. Ná verlede week se uitspraak het Hattingh ’n duidelike sug van verligting gesug. “Dit was ’n lang, harde pad en ek is nou baie bly dat dit verby is. Nou kan ek voortgaan met my lewe.” Hattingh was van jonks af ’n belowende speler en het in sy matriekjaar vir Labori se eerste rugbyspan uitgedraf as haker. Hy wou sy rugby ná skool nóg verder voer, asook opleiding ontvang om ’n vlieënier te word. Maar dit het alles een oggend drasties verander nadat hy op die rugbyveld gedraf het. “Ek het Roux geken, want ons het saam in die Boland-liga gespeel. Maar hy het van die begin van die wedstryd vir my geteiken. Ná sowat 15 minute in die wedstryd in, het ons teen mekaar geskrum en die volgende oomblik hoor ek hoe skree hy “jack-knife”. Volgens rugbyspelers, wanneer “jack-knife” uitgeroep is, is dit ’n teken om die skrum na een of ander kant toe te laat swaai. Dit is ’n onwettige en uiters gevaarlike beweging. “Hierna kon ek nie veel onthou nie. Ek het bewusteloos neergeslaan en vandaar kan ek net enkele oomblikke onthou, soos toe ek vanaf ’n Somerset-Wes hospitaal per helikopter na Groote Schuur vervoer is.” Hiér is hy in die hoësorgeenheid geplaas en ’n plaatjie moes binne sy nek geplaas word om die werwels weer te bind. Hy was byna ’n hele kwartaal bedlêend. “My lewe het drasties verander. Skielik is al die planne wat ek gehad het ná skool daarmee heen. Ek moes van voor af leer loop en my hande gebruik. “Steeds sukkel ek met baie pyn en ek kan nie onderskei tussen warm en koue gevoelens aan die regterkant van my lyf nie.” Met Hattingh se verpletterde drome van vlieënier wees, het hy ná skool opleiding ontvang as tegniese tekenaar, maar weens die nagevolge van sy besering was dit moeilik vir hom om werk te kry. “Omdat my nek vinnig seer raak, veral onder stres, moes ek verskeie werksgeleenthede laat vaar.” Vandag werk hy as ’n werktuigkundige in Kaapstad waar sy werksopdragte aangepas word om hom te akkommodeer. Die besluit van die Hattinghs om regsadvies in te win oor die voorval was om soortgelyke voorvalle te help voorkom. “Hopelik sal daar nou weer gekyk word na die veiligheid van jong rugbyspelers op die veld om te voorkom dat ander seuns se lewens nie vernietig word nie.”
More
News
|