Te koop-bordjies ontsier dorp
2011-05-12
BESOEKERS aan die Paarl wonder tans of die hele dorp te koop is. Die rede hiervoor is die talle te koop-bordjies wat veral op straathoeke langs die Hoofstraat geplaas is. Inwoners van Paarl sê ook dat hierdie bordjies die pragtige historiese Hoofstraat ontsier en eintlik onwettig is. Volgens munisipale regulasies mag te koop-bordjies wat nie voor ’n eiendom staan, maar net rigting wys na die eiendom wat te koop aangebied word, slegs vanaf Vrydag- tot Maandagoggend op straat geplaas word, en ook net as die betrokke huise op skou is. Maar veral die Hoofstraat staan deesdae heel week vol van hierdie borde en dit is ’n blatante wetsoortreding. Dit bederf ook die estetiese voorkoms van die Hoofstraat. Volgens een eiendomsagent word dit nou toenemend gedoen, juis omdat die Munisipaliteit nie hul eie bywette afdwing nie. “Die Munisipaliteit moet hierdie bordjies verwyder en hulle kan die skuldige eiendomsagente beboet, maar dit word nie gedoen nie.” * The dozens of for sale signs in Paarl Main Street are not only unsightly, but also illegal.
More
News
|