Student vermoor vir R1
2011-05-12
’n BELOWENDE, jong baldanser van die Paarl is die afgelope naweek vir R1 vermoor. Lutchiano Petersen (18) het Saterdagaand in Hibiscusstraat, Magnolia, besoek afgelê by sy pa. Later die aand het hy na ’n huiswinkel gestap om twee stokkielekkers te koop. Op pad terug na sy pa se huis is hy deur ’n jong man genader wat hom na bewering vir R1 gevra het. Volgens ’n polisiewoordvoerder, a/o Diana Linee, is Petersen in die nek gesteek toe hy weier om vir die man geld te gee. Hy het op die toneel gesterf. Hilton Davids (18) van Magnolia-woonstelle is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Petersen was vantevore in die nuus met sy uitmuntende dansstappies. Hy het die afgelope jare talle toekennings ontvang vir dans. Dié jong man, wat verlede jaar aan New Orleans Sekondêr gematrikuleer het, was ook ’n belowende student by Boland Kollege waar hy ’n eerstejaarstudent was in hulpbronne bestuur. Ananda Fismer, ’n lektor van Boland Kollege, het gesê dat Petersen se mede-studente ten gronde was toe die nuus van sy dood soos ’n veldbrand deur die kollege versprei het. “Hy was ’n stil, jong man met ’n warm hart.” Sy bewoë pa, Tommy Petersen, het gesê dat sy seun baie drome gehad het. “Hy wou klaar studeer en oorsee gaan. Hy het glad nie verdien om so te sterf nie. “Die honderde boodskappe van medelye wat ons al ontvang het, is ’n bewys van Lutchiano se gewildheid. Jo-Anne Adams van Jo-Anne Dansskool het gesê dat sy nou een van haar beste studente verloor het. “Lutchiano dans sedert hy agt jaar oud was by my. Hy het so baie talent gehad en sou binnekort aan die Wêreld-uitdunne deelgeneem het.” Hy word oorleef deur sy pa, broer, ook Lutchiano (13), suster Tammy-Lee (21) en oupa en ouma, Alice en Bennie Martin. ’n Stoet vertrek Saterdagoggend om 08:00 vanaf die moordtoneel by Hibiscusstraat 90 na die familiewoning te Schubertstraat 3, Dalvale. Daarna sal die kerkdiens plaasvind by die Bethel Congregational Kerk in Evansstraat. * A promising young ballroom dancer has been murdered for R1.
More
News
|