DIE berig in die Paarl Post oor die te koop-bordjies tref die kol 100%. Wat meer is, die bordjies word nie net as rigtingwysers geplaas nie, maar sommer ook as advertensieborde vir agente.
Twee of drie bordjies van dieselfde agent word sommer langs mekaar ingeslaan om die oog behoorlik te vang.
Nadat ’n eiendom verkoop is, word verkoop-plakkers op bordjies aangebring om aan die hele wêreld te verkondig dat agent so-en-so dit reggekry het om darem weer ’n slag iets verkoop te kry.
Die bordjies bly dan staangemaak totdat die wind en weer eendag daarmee klaarspeel.
Bordjies word sommer op geteerde sypaadjies ingeslaan, met die gevolg dat die twee klein gaatjies vogindringing toelaat en oor ‘n jaar of twee sit daar ’n groot slaggat op die sypaadjie.
Ek stel voor die munisipaliteit stel werkloses aan om elke Maandag die dorp deur te stap en al die ontoelaatbare bordjies te verwyder. Dit sal die agente gou leer om hulle bordjies te verwyder soos vereis.
Dan is daar natuurlik die verhuringsagent van kommersiële eiendom se massiewe te huur - borde wat oral op of voor geboue aangebring word en veral die indruk skep dat daar nie juis ’n goeie sakeklimaat in die dorp bestaan nie.
Eiendomsagente doen werklik niemand behalwe hulleself ’n guns met hulle bordjiepraktyke nie.
Trouens, hulle verlaag die estetiese kwaliteit van die dorp en sodoende uiteindelik die waarde van ons almal se eiendomme.
Anti-bordjies