Voortrekkerbeeld byna vernietig
2011-05-19
Lise Beyers
PAARLIETE was Saterdagoggend geskok om te sien hoe ’n bekende ou gebou openlik geskend word. Konstruksiewerkers het Saterdag begin om die bekende reliëf-standbeeld op die Absa-bankgebou op die hoek van Nantes- en Hoofstraat, Sentraal-Paarl te verwyder. Volgens munisipale rekords is hierdie gebou voor die Tweede Węreldoorlog opgerig en die standbeeld van ’n Voortrekkervrou teen die voorkant van die gebou is gemaak deur ene mnr Gehrung. Danksy ’n verbyganger, Gert Tighy, is bewaringskundige, Len Raymond, onmiddellik gekontak. “Ek het die kontrakteur gewaarsku dat wat hy doen onwettig is,” het Raymond gesę. “Die gebou is ouer as 60 jaar en geniet dus bewaringstatus.” Hy het aan die kontrakteur verduidelik dat enige wysigings wat aan so ’n gebou aangebring word, eers die goedkeuring van die Wes-Kaapse Erfenisraad moet kry. Die kontrakteur het op sy beurt aan Raymond verduidelik dat die standbeeld besig was om los te trek vanaf die muur, en dat daar om veiligheidsredes besluit is om dit af te breek. Raymond vermoed dat daar dalk ‘n politieke motief is vir die afhaal van die standbeeld. “Ek glo dat soveel as wat die beeld vir enkeles polities sensitief mag wees, weerspieël dit die geskiedenis van die ontwikkeling van die ou Afrikaanse nasionale kultuur wat in baie opsigte baie positief bydra tot die destydse ekonomiese ontwikkeling en mag dus nie benadeel word nie. “Op hierdie historiese basis moet ons die verwydering daarvan teenstaan en sorg dat dit herstel word. Die standbeeld is reeds suksesvol voorheen herstel.” Absa-woordvoerder John Dludlu, het gesę dat Absa kultuur en erfenis respekteer, maar dat die standbeeld onherstelbaar begin kraak het en ’n gevaar inhou vir die publiek. “Die Munisipaliteit het ons toestemming gegee om voort te gaan met die verwydering van die standbeeld. “Ons het egter nou werk hieraan gestaak terwyl ons met die Erfenisraad konsulteer.”
More
News
|