Slapelose nagte oor onwettige padwedrenne
2011-05-19
Lise Beyers
JAAGDUIWELS maak steeds amok met hul middernagtelike eskapades op plaaslike paaie. En veral inwoners van Boschenmeer het letterlik slapelose nagte hieroor. Talle klagtes is die afgelope weke deur Paarl Post ontvang vanaf slaap-ontneemde inwoners. Een van hulle, Johan Rossouw, het gesê dat dit malligheid is. “Hulle begin van so vroeg af as 21:00 ry en gaan dan dwarsdeur die nag aan. Hierdie motorbestuurders laat hul enjins heelnag dreun en hul bande skree teen die teeroppervlak. “Dit is belaglik dat die wetstoepassers niks hieromtrent doen nie.” Volgens Rossouw daag die polisie of verkeerspolisie nie op om aksie te neem nie. “Hulle sê eenvoudig dat hierdie stuk pad nie onder hul jurisdiksie val nie, maar onder die provinsiale verkeersowerhede. “Maar dit is tog rusversteuring as die jaers so tekere gaan en daar moet opgetree word teen hulle, dit maak nie saak onder wie se jurisdiksie die gebied val nie. “Gaan daar slegs opgetree word wanneer iemand sy lewe verloor?” Dit is nie net inwoners van die Parys-pad wat hieronder ly nie, maar ook dié van Klein Drakensteinweg en Chicago. Onlangs het die plaaslike verkeersowerhede wel aktiewe operasies oor naweke uitgevoer om veral in Paarl-Oos hierdie onwettige straatjaers hok te slaan. Maar volgens ingeligtes skuif hulle net hul aktiwiteite na ’n ander pad. ’n Woordvoerder van die provinsiale verkeersowerhede het vandeesweek wel gesê dat daar dringend gekyk word na hierdie knellende probleem. Volgens hom voer hulle saam met die polisie en plaaslike verkeersowerhede samesprekings wat sal lei tot ’n daadwerklike oplossing vir die probleem. Hy kon op hierdie stadium nie verdere inligting hieroor verskaf nie. Maar totdat die owerhede optree hieroor, sal talle inwoners in die vallei hul daarop moet berus dat slapelose nagte hul voorland gaan wees. * Illegal drag-racing is still an active sport in the area.
More
News
|