Drie vas na moord op Jolene
2005-10-20
SY gewete het hom gery, en daarom moes hy bieg oor die ontvoering, verkragting en moord van ’n meisie.
Inwoners van Greenfields in Daljosafat het Donderdag geskok geluister hoe Ben Pienaar van Fairyland deur ’n megafoon vertel het van Jolene Pietersen se laaste ure.
Jolene (19) van Nkululekustraat het Saterdagnag twee weke gelede verdwyn nadat sy die aand saam met vriendinne uitgegaan het.
Sy is die volgende oggend halfnaak en keel-af gesny sowat 200m van haar ouerhuis ontdek.
Die ontstoke gemeenskap het gesweer om die moordenaars aan die kaak te stel en het die polisie met inligting bestook.
’n Week ná die moord is die eerste verdagte aangekeer ná inligting oor bloed aan die klere van ene Jacob Pietersen van Willemstraat.
Terwyl hy ondervra is, het die ondersoekbeampte, insp Elton Abrahams, en die gemeenskap verder gesnuffel en leidrade opgevolg.
Donderdadg is pastoor Andrew Bassick en drie inwoners van Greenfields na ’n opslaanhok in Fairyland, waar ene Ben Pienaar aangekeer is.
“Ons het met hom gepraat en hy het besluit om te bieg. Toe neem ons hom na die plek waar die meisie vermoor is, en hy wys voor die mense en die polisie alles uit.
“Ons het hom ’n megafoon gegee en hy het die moordnag beskrywe.” Polisiebeamptes, wat saam geluister het, het daarna die man in hegtenis geneem.
Saterdag is lede van die gemeenskap en die polisie na Mbekweni waar die derde verdagte gearresteer is. Michael Manzo, soos sy makkers in sy 40’s, word nou ook in Allandale tronk aangehou.
Die arrestasies was net moontlik met die samewerking van die publiek, het die polisie geloof. Verdoemend was die inligting van ’n vrou wat die drie mans die nag saam met Jolene gesien het.
Die publiek moet egter nie in hul oorgretigheid die saak laat skipbreuk ly nie, het kapt Rudolf Bailey gesê. Dit sou beter wees indien alle inligting direk aan die polisie oorgedra word.
’n Groot skare het Woensdag voor die Paarlse landdroshof betoog teen moontlike borg vir die drie beskuldiges. Die borgaansoek is tot 26 Oktober uitgestel.
More
News
|