Wie is ingeloop met klein hondjies?
2011-05-26
ALLE klagtes teen ’n beweerde onwettige hondeteler van Wellington is Dinsdag voorlopig teruggetrek. Tydens die hofverskyning van Yolanda du Plessis, ook bekend as Yolanda Swiegelaar, is daar beslis dat die saak voorlopig teruggetrek word weens ’n tekort aan bewyse. Die Wellington polisie wil egter nie die saak daar laat nie en versoek die publiek om na vore te kom indien hulle in die verlede honde by Yolanda gekoop het. Die polisie is van mening dat onregmatige handel in honde, onwettige telery en dieremishandeling by haar woning in Generaal Hertzoglaan, Berg-en-Dal, plaasvind. Dit kom nadat Chris Theron, voormalige inspekteur van die Dierebeskermingsvereniging, op haglike toestande by dié woning afgekom het. Volgens hom was daar oral honde-ontlasting waar die honde aangehou is, asook hondemedikasie wat onwettig bekom sou wees. Tydens Theron se besoek het hy op twee uiters siek poedeltjies van ses weke oud beslag gelê. Een het ’n gebreklike heup gehad en moes hiervoor ’n operasie ondergaan om dit te herstel. As gevolg van Theron se ondersoek, is ’n saak van dieremishandeling teen Yolanda aanhangig gemaak by die Wellington polisie. Dit is egter nie net die DBV wat kla oor die sogenaamde onwettige bedrywighede by hierdie woning in Berg-en-Dal nie. Verskeie lede van die publiek het al gekla nadat hulle glo hul rieme styfgeloop het met die aankoop van honde by Yolanda. Die honde was dan glo nie raseg soos voorgegee is nie, of hulle was sieklik. Bure in die omgewing van Yolanda se huis het gesê dat daar veral op Sondae talle voertuie, veral vanuit die Kaapse Skiereiland, daar aanklop om vermoedelik hondjies te koop. Diegene wat probleme ondervind het as hulle by Yolanda honde gekoop het, word deur a/o David Manthey versoek om hom te skakel by 021 864 9600.
More
News
|