Rugbytelbord
2011-05-26
SPANPOGING HELP ’n Goeie spanpoging deur Lower Paarl se eerste rugbyspan het Saterdag daarvoor gesorg dat hulle 48-27 met Riverstones afgereken het. Die driedrukkers vir Lower Paarl was Abie Diedericks (2), Jurian Kulsen, Wayne Afrika (2), Donny Fredericks en Dudley Jonathan. Dalwyn Cornellissen het vyf van die drieë verdoel en 1 strafskop deur die pale gejaag. Lower Paarl se tweedes het met 14-7 gewen, die derdes met 27-3, die o.20’s het 10-elk gelykop geëindig, die o.12’s, 5-elk en die o.14’s het 22-0 gewen. ) PNIEL VILLAGERS VAL VAS In ’n baie harde, maar skoon wedstryd moes die manne van Pniel die knie buig voor die besoekers van Parow (NNK), wat hulle met 29-20 geklop het. Die tuisspan het moedig probeer, maar die ondervinding van die Parow-span, wat nog verlede seisoen in die Superliga A-afdeling gespeel het, was aan die einde deurslaggewend en hulle het sodoende hul onoorwonne status in 2011 behou. Pniel Villagers kon nooit behoorlik vanaf die voorste voet aanval nie omdat hulle gedurig in die skrums onder druk geplaas is en ook by die afbreekpunte waar die losvoorspelers van NNK die oorhand gehad het. Met water-drink-tyd was die telling 17-10 in NNK se guns. Die tuisspan het verskeie kanse geskep om punte aan te teken, maar swak afronding en gebrekkige besluitneming was hulle ondergang. Die skoppers van Pniel het ook hulle skopskoene by die huis gelos. Uitblinkers was skaars, maar Fernando Adams het goed verdedig voorlangs terwyl Stefanus Cedras agterlangs bestendig vertoon het. Puntemakers met drieë was Fernando Adams, Dimitri Noble en Byron Schoeman terwyl Edwin du Preez met ’n straf- en doelskop geslaag het. Pniel se tweede span het met 21-0 verloor terwyl die derde span met 5-3 gewen het. Die o.20’s verloor 15-7. ) SIMONDIUM DRUK TIEN DRIEË Simondium se eerste rugbyspan het Saterdag 10 drieë teen Pêrel United ingeryg en dié wedstryd maklik met 66-0 gewen. Warren Maralack het vier drieë gedruk en hierdie seisoen se drieëvraat, Julian Malangeni, het weer agter die doellyn gaan kuier. Jonvin Fortuin, wat vir drie maande op die kantlyn was, het sy terugkeer Saterdag gemaak en is ook met twee drieë beloon. Ander driedrukkers was Justin Solomons, Ryan Ontong en Pieter Kana. Die tweedes wen met 27-0 en die derdes met 15-0. ) GARDENS PLUK DIE VRUGTE Windmeul United moes Saterdag die knie buig voor Young Gardens nadat hulle met die draaislag nog die septer geswaai het. Met ’n goeie terugvegpoging in die tweede helfte, is die bordjies verhang en het Young Gardens vir Windmeul met 30-23 geklop. Drieë is aangeteken deur Delano Hoffman, Justin van Schoor, Kurt Lewis, Isaac de Jager en Cheslin de Villiers. Clint Brockman het een doelskop deur die pale gejaag met Brockman wat een strafskop behaal het. Die tweedes wen met 21-14 en die derdes speel gelykop 7 elk. ) LEGENDS OP DIE WENPAD Die nuwe sosiale rugbyklub in Franschhoek, die Franschhoek Legends, is op die wenpad deur 25-14 met De Doorns af te reken. Hulle speel in die nuutgestigte Boland sosiale liga teen spanne van Robertson, Rawsonville, De Doorns, Villiersdorp en Moorreesburg. Vroeg in die eerste helfte het die flank, Hennie Zandberg, die eerste drie gaan druk. Adriaan Oberholzer, binnesenter, het ook daarin geslaag om twee drieë te gaan druk. Die losskakel Bernard Kotze, het twee drieë verdoel en kon ook twee strafskoppe deur die pale jaag. ) VIOLETS HAAK KNOOP DEUR Violets het Saterdag hulle ligawedstryd teen Allandale op Daljosafat met 33-9 gewen. Drieë is gedruk deur William Hendricks (2), Denovan Hoogaard, Samonique Adonis en Ashley Raubenheimer. Violets se tweedes wen 25-14 en die derdes verloor 3-22. Violets is op soek na ’n 3de span-afrigter en belangstellendes kan vir Roger Uren kontak by 082- 228-0470.
More
News
|