Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rose se Wesbank-wedstryd moet wag

Rose se Wesbank-wedstryd moet wag
 
2011-05-26


VERLEDE Saterdag het Roses United sy onoorwonne status in die Boland Premierliga behou deur Robertson op laasgenoemde se tuisveld met 24-16 te verslaan. Met die oorwinning het die Rose verseker dat hulle nou in die binnebaan is om te kwalifiseer vir die Nasionale Klubkampioenskap later vanjaar, maar die kwalifiseringswedstryd teen Wesbank Saterdag is vir eers uitgestel.

Dit is uitgestel omdat Wesbank volgende week in ’n tugverhoor verskyn, maar Boland Rugby wou geen woord rep oor wat aan die gang is nie.

Die Rose moes verlede week hard werk vir hulle welverdiende oorwinning oor Robertson. Veral voorlangs het ’n hewige stryd geheers tussen die twee pakke voorspelers.

Onder die voorspelers het Martin Nel en Ignatius Korabie vir die Rose uitgeblink. Die res van die voorspelers het tesame met Nel en Korabie gesorg dat die Wellingtonners die tuisspan in die eerste helfte gedurig op die agtervoet gehou het.

Agterlangs was dit veral Manie Adams (heelagter) en Gaveron Sherman (linkervleuel) wat beïndruk het met hulle aanvallende spel. Die manne van Robertson moes veral bontstaan om die aanvallende spel van Sherman in die kiem te smoor.

Slegs swak afronding het verhoed dat die Rose nie meer drieë in die wedstryd kon aanteken nie.

Vir die Rose het Nel en Sherman elk ’n drie gedruk. Theodore Marinus was in die kol met 4 strafdoele. Wayne Matthee was suksesvol met een doelskop.

Die karakter wat die Rose getoon het in hierdie belangrike weg-oorwinning sal baie help vir die span se moraal vorentoe.

Die Rose sou eerskomende Saterdag hulle aartsvyande, Wesbank, in ’n maak-of-breek-wedstryd op Pelikaanpark in Wellington pak, maar die wedstryd is uitgestel weens ’n dissiplinêre ondersoek teen Wesbank.

Die wedstryd is vir alle praktiese doeleindes ’n mini-eindstryd om te bepaal wie vanjaar die Boland Rugby-unie gaan verteenwoordig by die Nasionale Klubrugbykampioenskap, maar die wedstryd kan nou moontlik in die raadskamers van die Boland Rugby-unie beslis word.

Die voorloper aan die einde van die eerste ronde van die Boland Premierliga sal die Boland Rugby-unie vanjaar by dié jaarlikse klubtoernooi verteenwoordig.

Wesbank is tans vyf punte agter die Rose met nog twee wedstryde oor in die eerste ronde.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za