Jong duiweboer span vlerke al wyer
2011-05-26
Sieb Sieberhagen
TOE Ruan Louw (16) drie jaar gelede vir die eerste keer met wedvlugduiwe te doen gekry het, sou hy seker nie kon droom dat duiwesport ’n groot deel van sy toekomsplanne gaan uitmaak nie. Nóú, ná drie jaar en met die Suid-Afrikaanse Junior-titel agter sy naam, is daar omtrent nie meer keer aan wat hy wil bereik in dié sportsoort nie. Met dié prestasie word hy as Mei 2011 se Paarl Post en Let’s Play se Spotster aangewys. Verlede jaar reeds het dié graad 10-leerder van Gim stof in die oë van hardebaard-wedvlugduiweboere geskop, toe hy as algehele wenner van die Boland Duiwe-unie aangewys is. Vanjaar het hy dit verder gevat deur as die beste junior in Suid-Afrika aangewys te word en saam met dit ook sommer ’n string ander prestasies. Die prestasies sluit in sy klub se kortpad-kampioen, vierde plek algeheel in die Paarl-Vallei Posduifvereniging se klubkompetisie (met vier wenne), drie Boland-unie wenne en twee wenne in twee trokwedrenne waaraan 7500 duiwe elke keer deelgeneem het. Hy vertel dat toe hy by Laerskool Slot van die Paarl op skool was, het ’n onderwyser hom bekend gestel het aan wedvlugduiwe waarna hy by die Paarl-Vallei Posduifvereniging aangesluit het en sommer gou die ou hande in dié sportsoort ’n ding of twee gewys het. Ruan het met sewe duiwe begin en vandag is hy die trotse eienaar van meer as 100 wedvlugduiwe en ’n hele paar broeipare. Sy pa Nickey, het hoeka nou vir Ruan ’n nuwe broeihok opgerig. Suid-Afrika se bekendste wedvlugduifvlieër, Mark Kitchenbrand, wat al R800 000 betaal het vir een duif, het ook vir Ruan onder sy vlerk geneem en nou is die twee amper onafskeidbaar. Ruan, wat ook in tweekamp uitblink, beplan ook om hom na skool in België te vestig om hom dan voltyds op die vliegduifsport toe te spits.
More
News
|