EK is werklikwaar bevoorreg dat ek in my werk byna daagliks in ons pragtige vallei rondry.
Vanaf die fraaie Franschhoek-vallei tot byna in die Swartland-veld anderkant Wellington.
Die berge dreun bo-oor my kop en ek beleef die draaie van die seisoene.
Elke dag is vir my pragtig - selfs in die ysige wintermaande wanneer die hoogste pieke van die Drakensteinberge met sneeu bedek lê en die wingerde kru in hul wintergeraamtes voor my staan.
En dan byna soos ’n wonderwerk, begin die vars nuwe blare van die wingerde en vrugtebome in September blare effe-effe uitloop in hul baba-groen gewaad.
So gaan die seisoene by my verby, maar ek hou hul dop met arendsoë weens hul prag.
Maar nou ja, soos in enige deel van die wêreld, is daar oudergewoonte die klaagliedere van die gemeenskap wat uitroep en teen die kranse skree.
Party van hierdie klaagliedere is heel van toepassing. Ons as belastingbetalers en liefhebbers van dié gebied het reg om te kla as ons sien dat ons gebied vervalle raak terwyl die owerhede misbruik maak van ons swaarverdiende rande en sente.
Ons sal immers nie kla om hierdie gelde te betaal as dit vir die regte doelwitte gebruik word nie.
Maar wat regtigwaar my bloeddruk laat styg, is diegene wat hul klaagliedere besing oor ons pragtige vallei se landboubedryf.
Sien, elke jaar as die lente aanbreek, begin talle te snuif en te traan. Ja, selfs ekke. Dus hou ek maar ’n permanente voorraad Allergex byderhand vir wanneer dit te erg raak.
Ons woon immers hier in die Paarl in ’n dorp wat nie net omring is met die mooiste wingerde in die Boland nie, maar binne die dorp self is daar ’n hele klompie lappe wingerd. Dit maak hierdie dorp vir my heeltemal uniek. En met reg so.
Stellenbosch het ’n effe kleiner lappie wingerd aan die onderste punt van Dorpstraat, maar niks noemenswaardig nie. Die Paarl is uniek met hierdie juweel - en dan kla die mense daaroor.
En hulle lê die blaam vir hul snuiwery nie op die natuurlike stuifmeel wat in die lente sy kop oral uitsteek nie, maar nou is dit die boer wat sy wingerde met allerlei spuitstowwe spuit, se skuld.
Ongelukkig woon ons nie meer in ’n perfekte wêreld waar ons slegs moet kweek om ons eie monde en dié van ons familielede te voed nie. Landbou is ’n bedryf wat elke hoeksteen van ’n dorp, wat binne ’n landbougebied val, voed.
En so hoes en proes die gemeenskap en ’n handjie vol wil sommer dan ontslae raak van al die wingerde en dan sommer ook die eikebome wat ook bespuit word teen verskeie virusse.
Ons bly hier in die Paarl en omgewing juis oor die prag van die gebied. Dit is ’n ware voorreg en my asem snak steeds oor hierdie skoonheid, meer as dertig jaar nadat ek daarmee bekend geraak het.
’n Ander vreemde dierasie van ’n klaaglied is dié in die herfs, wanneer boere mis in hul wingerde strooi ter voorbereiding vir die volgende seisoen.
Ai tog. Ek ruik hierdie aardige reuke ook wanneer hulle in die matige herfsaand deur my venster sypel.
Wanneer ek nie onthou dat dit daardie tyd van die jaar is nie, dan laat ek almal binne die huis eers na hul skoensole kyk om te sien of hulle nie per ongeluk in ’n landmyn getrap het nie.
Dan besef ek soos ’n dwaas dat dit ‘daardie tyd’ van die jaar is. Hierna slaap ek snags gerus sonder enige steurnis.
Om in die Paarl en omgewing te woon, het wel seker ’n paar steurnisse. Maar ek sal eerder hoes en proes en soms bollie in die lug ruik, as om elders my jong gesin groot te maak.
Laat daar altyd eikebome oor my kop wapper en die toneel van akkers en akkers wingerd om my wees, pleks van ’n stad wat nie sorg vir enige verbeelding – of argument nie.