TUSSEN die tydperk wat die Klein Drakenstein Boerevereniging die oorspronklike Italiaanse kruis op Dutoitskloof vervang het en die Weermag weer een opgevlieg het, was my kinderjare.
Die bergreeks was ons speelplek naweke. Wanneer dit op die hoogste pieke gesneeu het, het ons gereeld verby die kruis geklim om by die sneeu uit te kom.
Dan het ons die kruis weer regop staangemaak. Later was dit so vrot, dit kon nie meer regop staan nie.
In 1969 (std 8) het ek besluit om ’n nuwe een op te sit.
Ek het drie 12 voet teerpale by boere gekry en die struktuur eers met voë en boute gebou sodat dit op die berg gemonteer kon word.
Ons was ’n hele groepie wat die projek sou aanpak.
Die beplande naweek het almal kop uitgetrek as gevolg van ’n Sondagskoolpiekniek by die berghut aan die Wellington-kant.
Simon Basson het my gehelp om twee pale Vrydag ná skool halfpad berg-op te neem.
Vroeg die Saterdagoggend het ons die ander paal, draad en spieël ook opgeneem.
Vanaf die halfpadmerk moes ek twee pale dra, en by die steil plekke het ek vooruit geklim en dan die pale nader getrek met toue.
Die kruis is staangemaak en ons is toe sommer aan die Worcester-kant van die berg af, deur die vallei en weer op na die berghut om deel te wees van die Sondagskoolpiekniek!
Burrie du Plessis