Vigs-organisasie vier tiende verjaarsdag met feesnaweek
2011-06-02
Engela Duvenage
’n FEESNAWEEK word van 3 tot 5 Junie beplan ter viering van die tiende bestaansjaar van die Christen Vigs-buro vir Suidelike Afrika (ook bekend as CABSA). “Ons nooi belangstellendes om hierdie mylpaal saam met ons te vier, sodat hulle ook meer kan leer oor die waardevolle werk wat CABSA doen om gemeentes en Christengroepe te bemagtig om ’n positiewe bydrae te kan maak tot die menswaardige hantering van die MIV-pandemie,” vertel ds Nelis du Toit van CABSA. “Oor die afgelope tien jaar kon ons werklik ervaar watter positiewe impak inisiatiewe soos ons opleidingsprogram, ‘Kerke, Kanale van Hoop’ (KKvH) en die CARIS-informasiediens gehad het om mense se houdings teenoor MIV te verander.” ’n Inspirerende musiekaand word op Vrydag 3 Junie om 19:00 in die VGK Zions-gemeente in die Paarl gehou, waartydens Annalise Wiid as gaskunstenaar sal optree. Dit vorm ook deel van die gemeente se Pinksterreeks en is veral gerig op mense wat met MIV leef. CABSA bied op 4 Junie vanaf 09:30 ’n netwerkgeleentheid aan by die NGK Helderberg in Somerset-Wes. Dit bied ’n geleentheid vir gemeentes en verwante organisasies om hul werk uit te stal, terwyl die publiek ook kans kry om meer uit te vind oor die werk wat gedoen word onder mense wat geaffekteer word deur MIV. Stigterslede van CABSA en/of hulle familielede sal die eregaste wees tydens die CABSA-jaarvergadering, wat ook deel vorm van die program. ’n Spesiale byeenkoms word ook beplan vir almal wat oor die jare deur CABSA as fasiliteerders opgelei is. Die feesnaweek word op Sondag 5 Junie om 15:00 afgesluit by die Calvyn Protestantse Kerk in Athlone, met ’n spesiale dankseggingsdiens. Vir meer inligting, kontak Lucinda Leppan van CABSA by 021 873 0028 of support@cabsa.co.za.
More
News
|