Skrootdiewe verrinneweer gholfstokke
2011-06-02
Lise Beyers
SKROOTDIEFSTAL het onlangs ’n nuwe laagtepunt bereik, toe ’n gholfstel ter waarde van duisende rande gesteel is en verwoes is om as skroot verkoop te word. Ruan van Wyk van die plaas Naby in die Bovlei, Wellington, was geskok om onlangs ná ’n kort vakansie te ontdek dat nie net is daar by sy bakkie op die plaas ingebreek nie, maar sy gholfstel is ook gesteel. Die venster van die voertuig se kap is uitgestamp en die twee kantspieëltjies en die lugdraad is afgebreek. Die gholfstel was agter in die bakkie toegesluit. En verlede week het sy ergste vrese bewaarheid geword toe hy afgekom het op sy verbrande gholfstokke, versteek tussen bosse op die plaas. Die stokke is totaal en al verwoes. Die gholfsak is uitgebrand en die koppe van die stokke is afgebreek. Volgens ’n polisiewoordvoerder is die stokke só verrinneweer om as skrootmetaal te verkoop. “Ek kan nie glo dat my gholfstel ter waarde van duisende rande so verwoes is vir skroot nie,” het Van Wyk gesê. “Hy sou byna geen geld gekry het vir die ysterstawe nie.” Van Wyk is vasberade om die skuldige vas te trek. “Ek doen ’n beroep op die publiek om na vore te kom met inligting. Ons bied ’n R2000 beloning aan vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisname van ’n verdagte.” Van Wyk kan gekontak word by 084 500 0622 of 021 864 2701.
More
News
|