Familie in nood ná huis afbrand
2011-06-02
Christine Siebrits
IN die vroeë oggendure Saterdag is die Agenbag-familie gewek deur ’n huis vol vlamme en rook. Die brand is vermoedelik deur ‘n kortsluiting veroorsaak. Alles in die huis in Waterbergstraat, Weltevrede, is vernietig - net die dop het oorgebly. Gelukkig is almal wat in die huis was, ongedeerd. Marie Agenbag werk al vir baie jare by Silwerkruin-tehuis vir bejaardes as verpleegster vir die oues. Daar is sy ’n baie gewaardeerde en geliefde persoon, by die inwoners asook die personeel. Marie is die tipe persoon wat haar hart oopmaak vir persone in nood. So is daar nege kinders in haar pleegsorg - die jongste ’n jaar en twee maande en die oudste 16 jaar oud. Alhoewel sy en haar man al hul besittings verloor het, bly sy moedig. Sy is vol waardering vir al haar bure wat tuinslange vanaf hul erwe gebring het om te help om die vuur te blus. Teen die tyd dat die brandweer opgedaag het, was dit egter te laat om enigiets te red. St Albans Primêr en ook Weltevrede Sekondêr, waar die kinders skoolgaan, het kom hoor waar hulle kon help. Bekende inwoners, dr Manie Rust en sy vrou Winnie, het hul woonwa geskenk as tydelike huisvesting. Silwerkruin en ander persone het ook gehelp met komberse en ander artikels. Die grootste nood tans is skoolboeke, skoene en klere vir die kinders, sodat hulle kan voortgaan met hul skoolopleiding. Indien daar barmhartige persone is wat hierdie familie kan help, kontak vir Winnie Rust per e-pos by herust@mweb.co.za of selfoon 082 708 1976. Indien u ou dakplate het wat ongebruik rondlê, of balke of enige ander boumateriaal, sal dit baie welkom wees. * A Wellington woman and her foster children are homeless after a fire.
More
News
|