MARLIE KOCK, ’n sang- en dramastudent van Stellenbosch wat reeds groot sukses as jong, ontluikende aktrise behaal het, is aangewys om die hoofrol van Maria te speel in The Sound of Music, die musiekblyspel wat later vanjaar op Wellington opgevoer gaan word.
Tientalle kunstenaars en skoliere van Wellington en omstreke het ook rolle in die tamaai produksie losgeslaan.
Volgens Johann Enslin van Wellington Produksiehuis, wat The Sound of Music op die planke gaan bring, volg vanjaar se opvoering op die weghol-sukses wat verlede jaar met Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat behaal is, toe meer as 2 500 teatergangers die groot teater by Bergkroon buite Wellington vier aande lank volgepak het.
The Sound of Music het ’n rolverdeling van bykans 40 toneelspelers en sangers en sal vanaf 13 tot 16 Oktober by Bergkoon opgevoer word.
Verskeie kore van skole van Wellington en omstreke sal ook aan die opvoerings deelneem.
Die produksiespan bestaan uit Niel Rademan wat die regie waarneem en wat ook die rol van kaptein Georg von Trapp in die stuk vertolk, Johann Enslin, musiek-regie, Garrett Martin, dirigent, Winand Grundling, begeleier, en Ignatius van Heerden, choreograaf.
Enslin sê dat die sukses wat hulle verlede jaar met Joseph behaal het, die produksiespan laat besef het daar is groot moontlikhede in ’n plattelandse gemeenskap soos Wellington vir aanbiedings soos musiekblyspele.
“Ons begin selfs daaraan dink om eenmaal per jaar so ’n musiekblyspel op Wellington aan te bied. ’n Groot jaarlikse musiekblyspel op Wellington kan ’n vaste instelling word wat mense van oral oor lok – amper soos Duitsland se passiespele by Ober-Ammergau.
“Dit klink op die oomblik miskien na wensdenkery, maar as jy soos ons beleef het hoe groot die plaaslike talent is wat hier beskikbaar is en hoe groot die entoesiasme van die toeskouers is, lyk sulke drome hoegenaamd nie vergesog nie.”
Verskeie kunstenaars uit Joseph soos Gheta en Michael Grobler, Brent Reynolds, Nicola Visser, Jessica Reynolds, Merike Germishuys, Mecia Hugo en Lizeri Labuschagne sal ook in The Sound of Music te sien wees. ’n Hele paar Wellingtonse skoolkinders, waaronder Lara-Lynn Blignaut, Lomarie Thesnaar, Paula Zeeman, Mija Zeeman en Michael Grobler tree ook in die stuk op.
Net soos verlede jaar sal die groot kore wat in die opvoering gebruik word, bestaan uit plaaslike skoliere en die Amerikaanse dirigent Garrett Martin sal, onder leiding van orkesleier Joachim Müller-Krepon, ’n volgrootte simfonie-orkes dirigeer.