Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wyn in Os se bloed

Wyn in Os se bloed
 
2011-06-09


WAT is die resep vir ’n sag en lekker, unieke nuwe wynreeks? Raar maar waar: ’n Vrystaatse kuierbraai, Springboklegende Os du Randt en ’n wit hoedjie…

Dis hoe die splinternuwe wynreeks, “Osbloed”, ontstaan het. Maar, soos talle stories, het hierdie een ook ’n boeiende aanloop.

Eion du Toit, vinofiel en etnograaf (kommersiële antropoloog), verskaf die kap agter die byl: “Ek speel al lank met die gedagte om ’n unieke wynetiket te ontwikkel rondom rooiwyn wat sag en lekker op die tong lê. En toe tref ’n idee my in ’n gestalte wat ek nooit kon verwag nie!”

Du Toit het saam met vriende in Bloemfontein om die braaivleisvuur gekuier toe die formidabele Os du Randt daar aankom.

Os, bekend om sy sports, was nie links nie en sit die gasvrou se wit hoedjie op. Net daar vat die paartie vlam, en Du Toit is agter Os se bloed aan. Maar net, hy weet dit toe nog nie.

Die volgende dag op pad lughawe toe tref dit hom soos ’n klassieke Os-laagvat: Osbloed!

Neem ’n sagte Kaapse versnit, bekroon dit met ’n etiket van Os met die wit hoedjie op en jou kop is deur.

Hy bel op die daad vir Os en die blonde reus spreek sonder meer sy seën oor die konsep uit.

Agterna het sake met ’n spoed verloop. Du Toit, ’n boorling van die Paarl, vorm ’n dinkskrum met een van sy kliënte, die wingerdboer Joachim Steyn. Daaruit spring toe die verspreidingsmaatskappy TEN90 Wines, vir konsepontwikkeling.

Volgende probleem: wynmaker? Geen probleem nie - Steyn stel voor gebruik vir Theunis van Zyl, wynmaker en eienaar van Imbuko.

Van Zyl vat die gaping en ’n week later is die drie wynmanne hard aan die versny en proe.

Dít dan die storie agter die storie. Die Osbloed-wynreeks bestaan tans uit ’n rooi versnit en Pinotage Rosé.

En, kan jy maar sê, dit was tog altyd in Os se bloed.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za