Dodelike dwelm op straat
2011-06-09
Lise Beyers
PAARL-OOS polisie is geskok oor ’n nuwe dwelm wat spesifiek geproduseer word om kinders te teiken. Die nuwe dwelm staan bekend as ‘strawberry quick’ en lyk en proe nes lekkers. Die samestelling daarvan is byna identies aan die hoogs verslawende dwelm Tik, maar dit lyk heel onskadelik. ‘Strawberry quick’ is vermom met kleursel wat dit laat lyk soos ’n gewilde lekker wat binne die mond klap. Dit ruik en proe selfs na aarbei, sjokolade, grondboontjiebotter, kersie, druiwe of lemoen. A.o. Diana Linee het gesê dat dit skokkend is dat dwelmhandelaars onskuldige kinders só teiken. “Alhoewel die polisie alles in hul vermoë doen om dwelmhandelaars vas te trek, gaan ouers nou hul kinders van baie jongs af moet bewus maak van die gevare hiervan. “Vir kinders sal hierdie dwelm soos lekkers lyk. Veral in arm woongebiede sal hulle dit nie kan weerstaan nie. “Indien die kind dit dan inneem; kan dit soms dodelike gevolge dra.” Die polisie vra dus die hulp van die publiek om hulle kinders hierteen te waarsku en om hulle aan te moedig om geensins sulke lekkers, selfs vanaf vriende of familielede, te aanvaar nie. Enige inligting oor dwelmhandel in dié gebied kan vertroulik oorgegee word aan die Paarl-Oos polisie by 021 877 5900. * A new drug is sold to children as sweets.
More
News
|