Herwinning in die Paarl kom op dreef
2011-06-09
Lise Beyers
TWEE weke nadat ’n deur-tot-deur-herwinningsdiens in die Paarl in werking getree het, blyk dit reeds suksesvol te wees. Munisipale herwinning het in Maart in Wyk 2 van Wellington afgeskop en is nou uitgebrei na Wyk 4 en 15 van Paarl-Wes. Weekliks word ’n deurskynende vullissak aan inwoners van hierdie wyke verskaf. Hulle word gevra om herwinbare materiaal soos papier, glas, blikke en plastiek hierin te sit. Op vullisverwyderingsdae moet hierdie sak bo-op die vullisdrom geplaas word. ’n Afsonderlike vullisverwyderingslorrie verwyder hierdie sak en neem dit na die herwinningsaanleg in Distillerystraat vir sortering. ’n Nuwe sak word ook neergesit. Groot bokse kan ook platgedruk word en langs die dromme geplaas word vir verwydering. En alhoewel talle inwoners saam speel met hierdie herwinningsprojek, is daar wel ’n paar tameletjies wat inkruip. Sonja Frans van EnviroSmart, wat die herwinningsprojek bestuur, het gesê dat stadig maar seker is Paarliete besig om bewus te raak van herwinning. “Ons kan reeds sien dat ons deur-tot-deur-herwinningsprojek spoed optel, maar talle mense neem steeds nie deel nie. “En diegene wat entoesiasties is hieroor, begaan ’n paar foute. “Ons vra dat die houers, soos blikke en plastiek, uitgespoel moet word voordat dit in die herwinningsak geplaas word, en dat bokse asseblief plat gevou moet word. “Te veel lede van die publiek misbruik nou ook hierdie stelsel om hul tuinvullis in die herwinningsakke te plaas.” ’n Ander probleem wat Frans ondervind, is dat mense wat gebruik maak van glasbanke om ontslae te raak van glasbottels, ander glasprodukte daar stort. “Slegs drankbottels, koeldrankbottels en flesse moet in hier bottelbanke gegooi word. Ander glasgoedere soos gloeilampe, ruite, drinkglase en borde bederf hierdie versending glas. “Wanneer die versending by die glasherwinnaar kom en hulle vind sulke produkte tussen die bottels, word die hele versending net so na ons teruggestuur.” Frans vra die publiek se samewerking om op te let hierna. Inwoners van die herwinningswyke kan nog sakke bekom by die munisipale kantore van Paarl en Wellington. Vir verdere navrae oor dié munisipale diens, kontak 021 807 4715 (24 uur). * The municipal recycling project is picking up speed, but is not without problems.
More
News
|