Vrou kom op haar man af by ongelukstoneel
2011-06-09
Lise Beyers
’n VROU het Saterdagoggend op ’n gru-ongelukstoneel afgekom, onwetend dat haar man die sterwende slagoffer was. Marilyn Marsh was omstreeks 04:15 onderweg huis toe in Gemsbokstraat, Vanwyksvlei, nadat sy haar skof voltooi het as sekuriteitswag in die Paarl. In Jan van Riebeeckrylaan naby Mbekweni was die pad versper met polisie- en noodvoertuie. “Ek kon sommer sien dat dit ’n ernstige ongeluk moes wees. Ek het langs die pad stilgehou en na die toneel geloop om te sien of ek nie kan help nie. “Ek het gesien dat die verfrommelde voertuig ’n swart Citi Golf is soortgelyk aan dié van my man, Jacques, maar nooit het ek eens gedink dat dit hy kon wees nie. “Die paramedici het my nie naby aan die beseerde toegelaat nie. Hulle was besig om sy lewe te probeer red.” Die slagoffer is kort hierna oorlede en Marilyn het toé gehoor dat die oorledene se van Marsh is. “Dit was ’n geweldige skok. Daar is nie baie mense met dié van nie, en ek het dadelik geweet dat dit Jacques is.” ’n Woordvoerder van die polisie, konstabel Lungi Mqakelana, het gesê dat Jacques beheer oor die motor verloor het in Jan van Riebeeckrylaan in die rigting van Wellington, waarna die motor gerol het. Die rede hoekom hy beheer verloor het, is onbekend. Volgens Marilyn was Jacques ’n gewilde inwoner van Vanwyksvlei, Wellington, met ’n baie groot vriendekring. Hy het as klerk gewerk vir die Divfood-afdeling van Nampak in Dal Josafat. Hy word oorleef deur sy vrou en drie kinders, Shaunathon (20), Cheslyn (15) en Denél (9). Sy begrafnis vind Saterdag 12:00 by die huis te Gemsbokstraat 4, Van Wyksvlei plaas en daarna om 13:00 by St Albans Kerk, Wellington. * A Wellington woman came upon the accident scene where her husband lay dying, on her way back from work.
More
News
|