EK was op 31 Mei by Shoprite Paarl en het gesien dat hulle Olé margarien 1 kg vir R15,99 op spesiale prys was, maar daar was geen voorraad op die rakke nie.
Volgens een van die werkers sou hulle eers Vrydag 3 Junie dit weer inkry teen normale pryse. Volgens ’n senior dame is die afslag net tot 31 Mei en as daar nie op die rak is nie, is daar nie meer nie en klaar.
Ek meen dit is uiters slegte diens, aangesien daar nêrens op die rak staan dat die prys geld net solank voorraad hou nie. Dit staan ook nie op die pamflette nie.
Dan moes hulle mos die laer prys van die rakke afgehaal het. Die mense by Shoprite het geen trots nie.
Sakkie de Villiers
’n Woordvoerder van Shoprite reageer: Dit gebeur van tyd tot tyd dat winkels uit voorraad raak van produkte op spesiale aanbieding wanneer die aanvraag Shoprite se verwagtinge oorskry.
Shoprite Paarl was Maandag 30 Mei uit voorraad van die 1 kg Olé margarien wat teen die spesiale prys van R15,99 aangebied is weens ’n hoë maandeind-aanvraag oor die naweek, maar nuwe voorraad van die produk is later dieselfde aand by die winkel afgelewer.
Die nuwe voorraad is moontlik nie tydig op die rakke uitgepak nie. Die Shoprite-ketting sal dit ondersoek en die nodige stappe neem om produk-aanvullingsprosedures in die winkel te verbeter.
Die spesiale aanbod op dié produk was geldig tot en met 5 Junie.
Shoprite vra om verskoning vir enige verkeerde inligting wat moontlik deur winkelpersoneel aan mnr de Villiers oorgedra is, asook vir die feit dat die personeel nagelaat het om volgens beleid vir hom ’n produk-koopbewys aan te bied wat hom in staat sou stel om die produk wat uit voorraad was op ’n latere stadium steeds teen die spesiale prys te bekom, sou nuwe voorraad eers ná afloop van die promosie beskikbaar wees.