Gemoedere loop hoog op Wellington
2011-06-09
Johan Nel
DIE skokkende verval van dele van Wellington se middedorp en die haglike toestand van ’n verlate woonhuis in Hoofstraat het gemaak dat gemoedere verlede Woensdagaand op ’n vergadering tussen inwoners van die dorp en amptenare van die Drakenstein Munisipaliteit amper-amper tot uitbarsting gekom het. Raadslid Albertus Buckle van die DA het as voorsitter by die vergadering in die munisipale kantore op Wellington opgetree. Onder die Wellingtonners wat die vergadering bygewoon het, was verteenwoordigers van die plaaslike sakekamer, van die polisie, die erfenis- en verfraaiingskomitee op die dorp, diensorganisasies soos Lions en ’n groot aantal van die inwoners wat in die onmiddellike omgewing van die vervalle huis in Hoofstraat woon. Die feit dat twee van die woordvoerders van die Munisipaliteit meer as ’n halfuur laat by die vergadering opgedaag het ,terwyl ’n derde amptenaar glad nie eens sy opwagting gemaak het nie, het bygedra tot die spanning wat dwarsdeur die byeenkoms onder die aanwesiges geheers het. Toe een van die amptenare die vergadering meedeel dat die Munisipaliteit pas ’n brief aan die prokureur van die eienaar van die vervalle woonhuis by Hoofstraat gestuur het om sy agterstallige dienstegelde te eis, het een van die inwoners van die dorp, Eugenie Wiggins wat die verfraaiings- en erfeniskomitees verteenwoordig, hom onmiddellik daarop gewys dat die amptenary dieselfde antwoord reeds sedert 2008 met gereelde tussenposes aan die inwoners van die dorp gee. Volgens die beswaarde inwoners is die geykte antwoorde en verduidelikings wat die amptenare voor die vergadering kom lê, bewys van die gebrek aan respek waarmee die inwoners van Wellington deur munisipale amptenare behandel word. Die amptenare is daarop gewys dat daar so onlangs as Oktober 2010 ’n vergadering by die betrokke woning met van die amptenare gevoer is om die verval aan hulle uit te wys. Ondanks al die pogings, praat die amptenary elke keer bloot van dreigbriewe wat aan die eienaar se prokureur gestuur word, maar niks daadwerkliks word verder aan die saak gedoen nie. Volgens die beswaarmakers laat die Munisipaliteit sienderoë toe dat minstens drie hawelose gesinne onder haglike omstandighede in die woonhuis woon. Daar is geen water of riolering nie en daar word glo op groot skaal met Tik en ander dwelms vanuit die huis gesmokkel. Die amptenare is ook daarop gewys dat mense wat naweke inkopies by ondernemings in die omgewing van Hoofstraat, tussen Pentz- en Murraystrate, kom doen, weens ’n gebrek aan openbare toiletgeriewe gedwing word om die sypaadjies voor woonhuise as toilette te gebruik. ’n Verteenwoordiger van die polisie het gesê dat daar van hulle verwag word om mense wat persele soos dié betrokke leë huis onwettig betrek, te verwyder, maar die munisipaliteit is veronderstel om alternatiewe huisvesting aan sulke haweloses te voorsien waarheen die polisie hulle kan neem. Raadslid Buckle het onderneem om by die amptenaar wat nie by die vergadering opgedaag het nie, uit te vind waarom hy nie gekom het nie. Hy sal ook by die amptenare wat by die saak gemoeid is, uitvind presies wat die verdere verloop van die aksies gaan wees wat geneem word om met die eienaar van die betrokke gebou in verbinding te tree en watter proses in die toekoms gevolg gaan word om die agteruitgang in dié deel van die midddorp daadwerklik te stuit. Terugvoering sal so spoedig moontlik by ‘n opvolgvergadering aan die betrokke inwoners gegee word. * Wellington residents are up in arms after a meeting with municipal officials over the dilapidated state of the town.
More
News
|