Vuiste klap op rugbyvelde
2011-06-09
Lise Beyers
PLAASLIKE rugbywedstryde is die afgelope naweek erg ontsier toe die vuiste op en af van die veld geklap het, waartydens ’n skeidsregter ook glo aangerand is. Tydens die o.20-stryd tussen Paarl en Hamlets van Mamre, het dinge so warm onder die kraag geraak, dat die skeidsregter die wedstryd afgelas het kort nadat die tweede helfte begin het. Volgens ’n ooggetuie, Eric Theron, het die jong spelers van Mamre reeds haaks geraak met dié van Paarl vroeg in die eerste helfte van die kragmeting in Faurestraat, toe hulle ’n strafskop afgestaan het. Die bakleiery op die veld is vinnig onder bedwang gebring deur die skeidsregter, maar volgens Theron het Hamlets se ondersteuners deurgaans vanuit die pawiljoen die skeidsregter, asook die Paarl-span, met kru taal getreiter. Gemoedere het in die tweede helfte kookpunt bereik. Talle ondersteuners het die veld bestorm, party selfs gewapen met stokke, en nie net mekaar beetgepak nie, maar die spelers ook. Die skeidsregter het die wedstryd noodgedwonge vroegtydig beëindig. “Dit is absoluut skandalige gedrag van die toeskouers,” het Theron gesê. “Die spelers is byna nog kinders en is toegetakel deur dronk volwasse toeskouers.” “Dit is ’n klad op die naam van die sport en verlaag die moraal van die spelers.” En enkele kilometers vanaf hierdie voorval, het ’n soortgelyke voorval plaasgevind by Daljosafat-stadion waar Vineyards en die Blues kragte gemeet het. Volgens verskeie toeskouers wat die wedstryd aanskou het, was die hele wedstryd gekenmerk deur omstrede besluite van die skeidsregter, Francois Heyns. Die spyker in die doodskis van hierdie wedstryd was glo toe Heyns ’n drie toegelaat het van die Blues, vyf minute nadat speeltyd verstryk het. Hulle het dus die wedstryd op die nippertjie met 27-25 gewen - die eerste keer in drie jaar dat Vineyards ’n wedstryd verloor. En skaars het die eindfluitjie geblaas, of die beleërde sportkoördineerder van die Drakenstein Munisipaliteit en bestuurslid van Vineyards, Maawyah Moerat, stap op die veld en chaos bars los. Albert Kulsen, sekretaris van die Blues, het bevestig dat Moerat die skeidregter aangerand het. Moerat het egter gesê dat hy net op die veld gestap het om orde te skep. Die bestuurder van skeidsregters van WP Rugby, Ben Theron, het gesê dat Heyns ’n klag van aanranding ingedien het en dat Vineyards gedagvaar is om voor die unie te verskyn in verband hiermee. “Heyns is ’n uiters bevoegde skeidsregter en wat plaasgevind het, is ’n groot jammerte. “Die Unie handhaaf ’n houding van zero-toleransie teenoor hierdie gedrag en diegene wat skuldig bevind word aan die aanranding van ’n skeidregter kan ’n lewenslange verbod van die rugbyveld in die gesig staar.” Theron het gesê dat bestuurslede dikwels warm onder die kraag raak, en hierdeur sweep hulle hul toeskouers ook op. Herman Abrahams van WP Rugby het gesê dat die voorvalle ondersoek word om nodige verslae op te stel. Hierna sal tugstappe teen die betrokke spanne oorweeg word. “Alhoewel beide voorvalle aan die toeskouers toegeskryf kan word, moet klubs pa staan vir hul toeskouers se gedrag. “Hierdie soort gedrag is onaanvaarbaar. Baie van hierdie gevalle kan toegeskryf word aan drankmisbruik en onkunde oor die spel. Toeskouers mag nie die wette van rugby in hul eie hande neem nie.” * Various brawls on local rugby fields took place this past weekend, one leading to assault of a referee.
More
News
|