EK reageer op die brief van nog ’n ma.
Moeder, jy sal nie besef hoeveel jou brief vir baie sukkelende ma’s beteken nie en dan praat ek nie net van die finansiële sy nie.
Baie ma’s is al so moedeloos, maar jy het vir hulle kom bemoedig met jou brief. Sommige is besig om te skei en jou brief het hulle moed gegee.
En kinders julle hoef nie bekommerd te wees nie, ma weet altyd wat die beste is vir haar kinders!!! Ek het ook sonder ’n pa grootgeword en ek is regtig nie spyt vandag nie. Ek het geen behoefte om hom te ken nie, want God is my Vader, as ek iets nodig het, vra ek net vir Hom.
My ma het ons alleen grootgemaak sonder enige bystand van ’n vaderfiguur. Sy het vir ons gesorg na die beste van haar vermoë.
Niks was ooit te moeilik, of sy was nooit te moeg om iets vir ons te doen nie. Al het dit moeilik gegaan, was sy blymoedig, want haar kinders is haar seëninge.
Vandag kan ek terugkyk en sê dankie mammie vir alles wat jy vir ons beteken, vir al die raad, bystand, liefde en geduld.
So Moeder dit vat waagmoed om te skei, maar onthou God laat nooit sy kinders in die steek nie.
Dankbare kind