DIE sanger en TV aanbieder, Tobi Jooste (oud-Gimmie), tree Vrydag 10 Junie in die Paarl op in die Noord-Eind Skoolsaal om 19:00. Kaartjies (R50 elk) is beskikbaar by die ACVV-tak by 021 872 2738.
Tobi het in 2001 gematrikuleer aan Hoërskool Gimnasium en daarna voltyds die musiekbedryf betree. Vandag spog hy met vier albums, vier Europese toere, hy is aanbieder van twee TV programme, het sy eie besigheid, modelleer vir ’n skoonheidsreeks, het sy eie parfuum- en klerereeks, ’n boek en vele meer.
Tobi het homself as vernuftige en veelsydige uitvoerende kunstenaar bewys. Die 28-jarige donkerkop was te sien as aanbieder van Reik na die Sterre op kykNET, en is tans aanbieder van Paparazzi op topTV.
Hy is besig met sy vyfde album. Sy loopbaan het hier in die Paarl begin toe hy nog op skool was. Hy het sang geneem by wyle Andrew Strauss. Daarna het hy na Johannesburg verhuis en sang geneem by die wêreldbekende sopraan, Carla Pohl. Sy eerste vertoning was in die Ou Meul-teater en hy het sy teater uitverkoop deur met ’n draagbare radio van huis na huis te stap in die Paarl, aan die deur te klop, en vir elkeen opnames van homself te speel. Só het hy sy eerste vertoning uitverkoop.
Deesdae reis Tobi gemiddeld 80 000km per jaar om sy musiek by die mense uit te bring.
Tobie is ook pas aangewys as landswye ambassadeur van die ACVV, waarna hy met die konsep-toer, Klere vir almal, vorendag gekom het. Hy is tans op toer deur Suid-Afrika om klere vir minderbevoorregtes in te samel. Sy doelwit is om 100 000 kledingstukke en R1 miljoen vir die ACVV in te samel.
Maak jou kaste skoon en bring al jou ou klere saam (minimum van vier stukke per persoon) na die vertoning. Die ACVV gaan daarna ’n massa-klereverkoping hou, waar die items vir tussen R10 en R20 verkoop gaan word. Al die geld gaan aan die plaaslike ACVV-tak.