Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Munisipaliteit verloor ons meubels

Munisipaliteit verloor ons meubels
 
2011-06-09


EK en my gesin (moeder 82 met borskanker, dogter 30 met epilepsie, seuns 24 en 27) is twee en ’n half jaar gelede deur Metrorail gevra om uit die huis wat ons by hulle gehuur het, te trek omdat ons agter was met die huur.

Ek is ’n enkelma en was toe die enigste broodwinner.

Omdat ek nie ander verblyf kon bekostig nie, het ek hof toe gegaan om die uitsetting te beveg.

Die landdros het Metrorail se regsverteenwoordiger opdrag gegee om Drakenstein Munisipaliteit te betrek, aangesien my ma toe al 11 elf jaar op die behuisingswaglys was.

Ons het daarna twee keer in die hof verskyn, maar die Munisipaliteit het glad nie opgedaag nie.

Ons is toe drie maande gegee om die huis leeg te maak. Ná drie maande het ons steeds nie ’n plek gevind wat ons kon bekostig nie.

Een van die kerkleiers het ’n raadslid genader en ook die burgemeester (Charmaine Manuel), wat opdrag gegee het om hof toe te gaan en die uitsetting te stop.

Die raadslid het toe vir my gesê ek kan maar bly, maar geen bewys gegee van die hofuitspraak nie.

Na vier dae, terwyl ek by die werk was in Epping, het die balju my ma en dogter met al ons goed in die reën op straat gesit.

Die burgemeester het toe opdrag gegee dat ons goed by die Munisipaliteit gestoor word, ook dat ons deur hulle gehuisves word tot daar iets vir ons uitgesorteer kan word.

Ons is toe in Orleanspark gehuisves.

Raadslid Sharon Davids het belowe ons sou binne twee weke ’n blyplek kry. Dit is nou byna drie jaar gelede en ons sit nog steeds hier. Die Munisipaliteit wil ons nou uitsit.

Drie maande nadat ons hier ingetrek het, wou ek my stoof en yskas gaan haal. Ek het met die Munisipaliteit gereël, maar toe my dogter daar kom, was die meeste van ons meubels en persoonlike goed weg, ook die nuwe yskas.

Ek is deur hulle gevra om ’n saaknommer en kwotasie te kry. Ek het alles ingedien, maar hulle weier nou om ons goed te betaal. Ek mag ook nie my oorblywende goed gaan haal nie.

Ek weet nie meer waarheen nie. Almal by die Munisipaliteit maak net beloftes. My ma is baie siek en bly nou tydelik by my suster in Atlantis omdat ons hier slegs ’n buitebadkamer het.

Ek kan nie ’n huurplek bekostig nie, want ek werk as deeltydse huisbediende, en my seun het ook net tydelike werk.

Ek het vyf jaar gelede om behuising aansoek gedoen, maar die behuisingskantoor kan dit nou nie op hul sisteem kry nie en my bewys is weg saam met die res van ons goed. Ek is raad-op en wag ná drie jaar steeds vir behuising en steeds vir die Munisipaliteit se versekering om my uit te betaal vir my meubels.

Sophia Daniels

May Carolissen, munisipale woordvoerder, reageer: Drakenstein Munisipaliteit se Behuisingsdepartement bevestig dat die vorige Uitvoerende Burgemeester die skrywer en haar familie ondersteun het om hulle tydelik te help.

Daar is beklemtoon dat die verplasing van die familie na die park nie ideaal is nie en net tydelik.

Wat die raadslid beloof het, kan die Munisipaliteit nie voor verantwoordelik gehou word nie.

Die meubels is tydelik gestoor, waar dit toegesluit was, nadat alles gelys was. Later is die stoorarea dringend benodig en is die klaer oor die verwydering en die berging daarvan na ’n alternatiewe plek gekonsulteer.

Weer eens is ’n opname van al die meubels gemaak voordat dit vervoer was na die munispale store. Die feit dat van die meubels verdwyn het, word tans deur ons regspersoon hanteer.

Die omstandighede van die familie is egter nie uniek nie en soortgelyke klagtes word daagliks aangehoor van die meer as 26 000 mense op die behuisingswagklys.

Daar is tans geen huise of grond vir huise beskikbaar is nie. Die Behuisingsdepartement is tans besig om alle moontlikhede te ondersoek en doen hul bes om die situasie te verbeter.

Sy is verblyf in ’n informele nedersetting aangebied, wat sy van die hand gewys het.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za