Rugbytelbord
2011-06-09
PNIEL-MANNE BYT VAS Dit wil voorkom asof die Pniel-span dit nou ’n gewoonte maak om wedstryde van agter af te wen, want dit het Saterdag vir die derde keer hierdie seisoen gebeur toe die tuisspan ’n agterstand van 19-5 in ’n wentelling van 24-19 omskep het teen Primrose van Crawford. Die besoekers het met die draaislag nog gerieflik met 14-5 voorgeloop en net ná rustyd ’n verdere vyf punte bygevoeg om die voorsprong verder te vergroot. Alhoewel die tuisspan die skrums oorheers het, het hulle ’n nagmerriemiddag beleef in die lynstane. Nie minder nie as tien lynstaanballe is deur die teenstanders gebuit van waar hulle die een aanval na die ander kon loots. Die groot uitblinker was egter Bennie Williams, die wenspan se skrumskakel, wat ’n afgeronde vertoning gelewer het. Die tuisspan se kaptein, Dennis Ebbes, was een van die uitblinkers. Puntemakers was drieë deur Fernando Adams, Bennie Williams, Jostin Jackson en Ruaan Jacobs terwyl Stefanus Cedras met twee doelskoppe geslaag het. Pniel se tweedes wen 31-12, die derdes verloor 12-15 en o.20’s wen 18-0. ) VINEYARDS VERLOOR Onenigheid oor skeidsregterbeslissings en ’n wedstryd wat gewen is nadat die tyd glo reeds verstreke was en onsmaaklike toeskouergeweld ná afloop van die wedstryd, was die kenmerke van Saterdag se wedstryd tussen Blues en Vine-yards wat op die ou einde deur Blues met 27-25 gewen is. Lower Paarl (Blues) se drieë is aangeteken deur Selwayne Cornellissen en Abie Diedericks. Cornelissen het ook met 1 doel- en 4 strafskoppe geslaag. Bjorn Wicklow het ook een skepdoel oorgeklits. Die Vineyards-manne beweer dat die skeidsregter twee van hulle drieë as gevolg van obstruksie nie toegelaat het nie en dat vreemde beslissings aan die einde van die wedstryd hulle onoorwonne rekord in die slag laat bly het. Vineyards was op die einde voor met 25-22, ná hulle in die laaste 3 minute van die wedstryd ’n drie gedruk het met ’n 7-man skrum nadat kaptein Adlee Moerat (senter) vir ’n hoogvat koelkas toe gestuur is. Vineyards se punte is aangeteken deur Dayne Peterson (losskakel), wat 20 punte bygedra het en Zahier Chippendale (flank) wat ’n drie aangeteken het. Dit is Vineyards se eerste verloor vir die jaar. Vineyards beklee nou die eerste plek met 2 punte voor Blues, maar Blues het nog een wedstryd oor in die eerste ronde. Vineyards speel Saterdag teen Riverstones. ) SPANPOGING HELP ’n Goeie spanpoging deur Riverstones se eerste rugbyspan het daarvoor gesorg dat hulle Saterdag met Young Gardens afgereken het. Hulle was baas met 26-13. Die driedrukkers was Lance Benjamin, Andre Jotelo, Urchill Duminy en Gerswhin Paulse. Die tweedes verloor 0-17 en die derdes speel gelykop 3-elk. Riverstones speel Saterdag teen Vineyards. ) ALBIONS KRY WIND VAN VOOR Albions se eerste rugbyspan het Saterdag die wind van voor gekry en moes met 24-46 die aftog blaas teen Windmeul. Die manne van Agter-Paarl het vir Albions aan die begin van die wedstryd op hul agtervoete gekry en 34 onbeantwoorde punte aangeteken. Albions se voorry het uitstekend gevaar. Dit was veral Andy Swart (haker), Ashwin Williams en Herschelle Davids (wat as speler van die wedstryd aangewys is), wat goed gevaar het. Albions se driedrukkers was Shane Waries, Gillmore Watts, Elrico Pietersen en Jaco Fortuin. Doelskoppe is aangeteken deur Carlyle Williams en Desty Davids. Albions se tweedes het met 14-15 verloor. Saterdag speel hulle teen Allandale op die Drakenstein-velde.
More
News
|