Roses lek lippe af na hulle Black Leaves trap
2011-06-09
EERSKOMENDE Saterdag pak Roses United die span van Wesbank in ’n kragmeting waarvoor rugbyliefhebbers al lank hul lippe aflek. Die wedstryd word op Pelikaanpark in Wellington gespeel en sal deurslaggewend wees om te bepaal wie hierdie jaar die Boland Rugby-unie by die Nasionale Klubrugbytoernooi gaan verteenwoordig. Die afgelope Saterdag het hulle gemaklik met Black Leaves van Hermanus klaargespeel. Wesbank moet dié wedstryd met ’n bonuspunt wen om te verseker dat hy nog in die prentjie bly om die eerste ronde te wen en sodoende te kwalifiseer vir die klubrugbytoernooi. Dié wedstryd beloof om ’n fel stryd te wees aangesien beide spanne baie goed teen mekaar opweeg. Agterlangs beskik beide spanne oor snellers wat die gang van die wedstryd in ’n oogwink kan swaai. Boonop sal die uitgeslape Evan Liedeman (skrumskakel) van Wesbank ook goed opgepas moet word deur sy eweknie, Neville Adams. Adams, wat tans diens doen in die plek van die beseerde Percival Williams, sal moet verseker dat Liedeman geen beweegruimte gegun word nie, aangesien hy gereeld aan die spits is van Wesbank se aanvalle. Dit is ook van kritieke belang dat Roses nie onnodige stafskoppe moet afstaan nie, aangesien Wesbank se stelskopper, Nevan Edas, tans skitterend korrel na die pale. Dit is egter voorlangs waar hierdie wedstryd beslis sal word. Beide spanne beskik oor puik pakke voorspelers. Tweestryde tussen hierdie twee aartsvyande is gewoonlik kliphard voorlangs. Hoofafrigter, Ricardo Williams, sal seker ook hoop dat Roses hulle puik skrumwerk van die afgelope tyd voortsit. Die hekke open om 11:00 en die hoofwedstryd begin om 16:00. Roses het verlede Saterdag die span van Black Leaves met 39-22 op Pelikaanpark geklop. Hulle tweede en derde spanne het onderskeidelik met 57-3 en 37-13 gewen.
More
News
|