Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jong violis opgeneem in die SA Nasionale Jeugorkes

Jong violis opgeneem in die SA Nasionale Jeugorkes
 
2011-06-15

Liezl Davids

AAN die begin wou sy die vioolspel opgee, so moeilik was dit, maar met haar ma se motivering het sy aanhou speel en vandag is sy ’n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes.

Anrika van der Merwe, ’n 17-jarige graad 11-leerder aan Hoër Meisieskool in die Paarl, sê sy sou nooit kon dink dat sy deel van dié jeugorkes sal wees nie.

“Ek is vanjaar gekies as orkesleier by die skool en het gevoel dat ek nou meer moeite moet doen met my vioolspel.”

Dit het haar gemotiveer om deel te neem aan die oudisies vir die Nasionale Jeugorkes. Maar toe Anrika die lys van mense wat aan die oudisies gaan deelneem sien, het sy gedink dat sy dit nie gaan maak nie.

“Ek was baie, baie op my senuwees. Die ander deelnemers was meestal in hul twintigs. Ek wou so graag hê my ma moes saam met my in die vertrek wees, maar sy moes buite wag.

“Tydens die oudisie was dit net ek in die vertrek en nog ’n man en ek moes op so ’n klein verhogie staan met die mikrofoon wat uit die dak kom.”

Sy is nogtans genooi om lid van die orkes te word wat vanaf 27 Junie in Johannesburg vir tien dae saam met die orkes oefen. Op 6 en 7 Julie doen hulle optredes in die Linder Ouditorium.

Volgens Anrika was dit aan die begin van haar vioolklasse maar moeilik om die note te kry en moes sy by die pluk van snare begin en stap vir stap haarself as ’n vioolspeler bemagtig.

“Aan die begin het dit geklink soos ’n kat wat huil en later het dit beter geword. Vioolspeel is soos trappies wat jy moet volg om bo uit te kom.”

Anrika vertel dat sy vier keer ’n week oefen en selfs by die skool wanneer sy ’n tydjie kry.

Haar vioolafrigter is Lucie von Molendorf.

Haar ouer suster Elsebé en jonger suster Lelanie het ook al self ’n instrument of twee bespeel. Elsebé, wat ook by Hoër Meisieskool was, was in haar matriekjaar ook aangewys as die orkesleier.

Haar ouma en oupa is self musikaal en sy speel nou met haar oupa se viool.

Volgens Anrika is haar ma haar rolmodel omdat sy haar altyd sal motiveer om nuwe dinge te probeer en haar ondersteun.

Ná skool oorweeg sy dit om argitektuur te bestudeer, maar sy hou haar opsies nog oop.

“Ek weet ek sal nooit my viool neersit nie.”

Sy sê sy sal steeds wil deel wees van ’n orkes, maar dat sy nie op hierdie stadium daarvan ’n professionele loopbaan wil maak nie.

“Maar as ek die geleentheid kry, sal ek die uitdaging aanpak, want dan is dit iets wat God vir my gekies het.”

Anrika speel ook graag klavier en netbal, doen ballet en neem deel aan die skool se musiekblyspel waarin sy ’n danseres is.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za