Dit is die regte manier om met bedelaars te werk
2005-10-20
DAAR is ‘n Engelse Spreekwoord wat sê: Charity starts at home. My huis is fisies aan die kerkgebou vasgebou - en in die winter (ons is naby die see) ‘n teiken van al wat ‘n boemelaar is.
Ek het al uitgewerk dat as ek vir elke boemelaar ‘n brood, ‘n liter melk en ‘n blikkie boeliebief of vis gee, dit baie naby sal wees aan my eie kruidenierswarebegroting. Hoe gemaak?
Met baie bepeinsing het ek tot die besef gekom dat ‘n mens moet onderskei tussen ware nood en slegte nood. Ware nood is soos die mense wat in Stilfontein woon en nie meer werk het nie en nie ‘n ander heenkome het nie.
Slegte nood is die ridders van die stofpad: mense wat lankal besluit het dat hulle nie wil werk nie, en dat drank belangriker is as kos, en slaap belangriker is as werk.
Wat goeie nood betref, tref ek drie onderskeidings. Dit is drie konsentriese sirkels in mekaar. Die kleinste is my “eie” mense: hulle met wie ek familie, taal en geloof en kultuur deel. Hulle help ek eerste.
Die tweede laat ek die familie weg en help ek taal en geloofsgenote. Derdens help ek taal en kultuurgenote.
Prakties kom dit hierop neer: ek vergelyk dit met ‘n glas en ‘n glas in ‘n glas (kleinste in die middel). Ek maak eers vol in die middel.
Waar daar leeg is, word vol, dan loop dit oor in die tweede glas en as daar nog oorloop, in die derde glas.
Sou daar dan iets oorbly, gee ek dit vir wie ook al nodig het.
Wat nou gemaak as iemand by die deur klop en kos vra? Hoe onderskei ‘n mens die ware nood van die slegte nood?
Ek het ‘n paar standaard vrae, wat my gewoonlik by die regte antwoord uitbring. Hoekom kom vra hy MY hulp (is dit omdat ek by ‘n kerk bly of is dit omdat hy van my bewus is)? Baie van hulle ken predikante en sal gou vertel dat hy een van my kollegas ken, dominee So-en-so van Hier-en-daar.
Dan bel ek my kollega! In sy teenwoordigheid, want 99% is kansvatters.
As hy my hulp vra omdat ek by die kerk bly, is my volgende vraag: hoekom? As sy houding is dat kerke MOET sorg, is my volgende vraag: hoekom?
Dan verwys ek hom gou na 2 Tessalonisense 3:10: “Wie nie werk nie, moet nie eet nie”. Hy moet dus nie kos of geld vra nie, hy moet werk vra (vloekwoorde vir boemelaars!)
As hy dan braaf genoeg is om werk te vra, kan hy die honde se landmyne optel en kar was terwyl ons vir hom ‘n broodjie maak, wat hy in ons teenwoordigheid moet eet (ek het al baie keer kospakkies buite die hek gaan optel, en selfs gesien dat iemand die kos wat ek vir hom gekoop het, aan iemand anders gaan verkoop het!)
Verder nooi ek hom na dit wat eintlik die kerk se taak is: die spyse van die Evangelie. Hy moet luister na God se Woord - ook om in die sweet des aanskyns sy brood te verdien.
Ek is redelik seker dat daar die een of ander kode tussen die boemelaars is, dat hulle weet waar om te bedel en waar nie. Hulle raak al hoe minder by my voordeur!
Uiteindelik moet ons besef kospakkies by kerke en voordeure hou slegte mense sleg. As hulle ‘n week lank niks te ete of drinke kry nie, gaan hulle werk soek. (Ek wonder dikwels of die groot werkloosheidsyfer reflekteer dat daar mense is wat eerder tuis bly en hulleself jammer kry as wat hulle vir ‘n kleiner salaris gaan werk as wat hulle verdien het).
As ons al die kospakkies se geld kan instort in werkverskaffing, gee ons nie visse nie, maar leer ons mense vis vang. Kerke kan vir elkeen wat kos vra, ‘n swart sak gee en sê dat as hulle die sak vol leë blikkies of papier terugbring, kry hulle die kos.
Daar is organisasies wat dit weer aankoop, en die geld kan nuwe kospakkies aankoop. So kan woonbuurte skoongemaak word en baie meer mense nuttig voel.
En as iemand my relaas tot nou toe gelees het, kan hy die vraag vra: hoe weet ek dit is nie ‘n engel wat voor my deur staan nie?
Antwoord: engele is nie lui nie! Hulle sal landmyne, blikkies en papiere gaan optel en die bord kos dankbaar eet!
Ken mense
More
News
|