Skote klap in die ''Wilde Ooste''
2011-06-15
Sieb Sieberhagen
WAT ’n doodgewone perderit van die plaas Tevrede in die Dal Josafat-omgewing sou wees, het verlede Woensdag net voor 12:00 ontaard in ’n skietery soos iets uit ’n Wilde Weste-fliek. Stefan Terblanche (14), seun van Fanie Terblanche van die plaas Tevrede, en Jason Basson, alias Red, die perdehanteerder van dié plaas, het oudergewoonte die polocrosse-perde geneem vir oefening, toe hulle hul vasloop in die fluitende koeëls en regter-opstopper van ’n ontstoke veeboer wat dié twee van veediefstal verdink het. Nóú sit die veeboer van die Roggeland-plaas, Gerhard Botes, met klagtes van poging tot moord en aanranding teen hom. Botes se veewagter, Pearson Mugodori, ’n Zimbabwiese burger, het ook ’n aanrandingsaanklag teen hom. Stefan, ’n leerder van Paarl Gimnasium wat die afgelope drie jaar reeds polocrosse speel en al selfs die Suid-Afrikaanse nasionale o.14 span verteenwoordig het en Red het Woensdag die perde vir hulle oefenlopies geneem. “Ons het die perde opgesaal om in die omgewing te gaan ry. Ons doen dit gereeld en die mense in die omgewing weet dat ons hier rondry. Ons het in die Roggeland-omgewing ’n trop skape en bokke gekry en tussen die trop deurgery. Die veewagter het vreeslik op ons geskel en ons met klippe gegooi,” vertel Stefan. Die twee vertel dat hulle nog ’n draai gery het en toe die plaaspad oor die Mooibly landgoed geneem het om weer op Tevrede te kom: “Terwyl die perde so deur die wingerde stap, het ons ’n bakkie gesien wat op ons plaas in ons rigting aangejaag kom. Daar was iemand agterop die bakkie en twee mense voor in. “Ons sien toe dat die bakkie stop en toe klap die eerste skoot hier by ons. Ek het my amper natgemaak,” vertel Red. “Ons het gesien die man lê direk op ons aan en ons lê toe maar laag op ons perde. Dit is toe dat die tweede skoot klap en die koeël oor ons koppe fluit,” sê hy. Stefan vertel dat die tweede skoot reg agter hom verby is: “Sjoe, dit was amper.” Die man wat op hulle geskiet het, beveel hulle toe om na hom toe te kom, vertel die twee. “Ek sê toe vir Red hy moet gaan versterkings haal en sy perd huis toe neem. Ek hoor toe hoe Botes vir my skreeu dat hy die perd onder my gaan doodskiet indien ek sou wegjaag,” sê hy. Stefan, wat met ’n stofmasker ry omdat hy allergies is vir perdehare, vertel dat hy toe sommer van die perd afgepluk word toe hy by Botes-hulle stop. Dit is toe dat hy hom vasloop in ’n opstopper vol op die mond. En toe spring die veewagter sommer ook in en dam vir Stefan met ’n stok by, word vertel. “Botes skreeu toe op my en sê dat hy moeg is vir die veediewe,” vertel Stefan. “Hy beveel my toe om my pa te bel. Ek het nie my selfoon by my gehad nie en leen toe Botes se foon.” Fanie Terblanche vertel dat toe hy op die toneel stilhou, hy van Botes moes hoor dat sy seun ’n skaapdief is. In dié stadium was hy nog nie daarvan bewus dat daar op Stefan en Red geskiet is nie. Nadat Botes hulle beveel het om van sy grond af te gee pad, wou Stefan by Botes weet waarom hy op hulle geskiet het. “Dit is toe dat ek maar my hande diep in my sakke gesteek het,” vertel Fanie. “Ek het dadelik die polisie gebel en dit was soos blits en hulle was op die toneel.” Hy vertel dat die polisie later die patroondoppies van ’n handwapen op die toneel gekry het: “Ek dink daar was ’n misverstand tussen Botes en sy veewagter. Dit is totaal onaanvaarbaar om so op te tree. “Dit is ’n rustige omgewing en Red ry elke dag met die perde hier in die omgewing. Die bure ken mekaar, maar dit is die eerste keer dat ek vir Botes ontmoet,” sê hy. Kaptein Louise du Plessis, skakeloffisier van die Paarl polisie, sê dat Botes dieselfde dag gearresteer is en dat daar sake van poging tot moord en aanranding teen hom geopen is. Intussen is Botes op borgtog vrygelaat. Die veewagter is op ’n waarskuwing vrygelaat. * A stock farmer has been charged with assault and attempted murder after shooting at two horse riders in Dal Josaphat.
More
News
|