Sê-nou maar net?
2011-06-15
Hester de Kock
EK wonder dikwels oor sekere fenomene in Suid-Afrika, maar dit het niks verander aan omstandighede nie. Dan maar die sê-nou speletjie: Sê-nou Eva het nie praatjies gemaak met die slang nie, dan was daar nie modefoefies soos lagwekkende hooftooisels by die prinslike troue of die denimsiekte wat selfs nie die potsierlikste figure ontsien nie. Sê-nou almal het spieëls en kan sien, sal mense steeds hul voorkoms so verkrag? Sê-nou dit was die enigste gevolg van die appel-en-slang sage, dan was wetgewing vir mens- en diereregte nie nodig nie. Sê nou pres. Zuma het grondige kennis gehad van die nadraai van die tuinkletsery, sou hy steeds kiesers afgedreig het met die gramskap van Voorvadergeeste? Sê-nou dié geeste is die oorsaak van die bedenklike bestuursvernuf van duisende padgebruikers, dan is ons probleem enorm, want daar was baie voorvaders! Sê-nou die voorspeller van 21 Mei het die nadraai van die tuinsage regtig verstaan, dan was sy angstige nagwaak op wegraping, onnodig. Sê-nou Cele besef iets skort met die basiese opleiding van polisielede, maar wil nie die vorige regime se leerplan volg nie, dan kan hy prettige leeswerk doen van Sir Conan Doyle se bio- en outobiografie en sien waar die suksesverhaal van die Britse en Amerikaanse polisiëring vandaan kom. Sê-nou die probleem is geletterdheid by magslede en in die breë werkerskorps? Dan is Dingese straat ons almal se voorland, soos reeds in 1994 voorspel deur Van der Mewe. Sê-nou mediaberigte is geloofwaardig, dan woon mense al vir jare, na 1994, in dié soort straat in sekere dorpe, selfs in Wellington. Sê-nou ons munisispaliteite het ’n ingeboude toiletprobleem? Die oorsprong is definitief uit die vorige bestel. In 1990 in Noord-Wes is 700 toegeboude toilette opgerig op ’n verlate stuk grond; géén vooraf- of agterna-ontwikkeling nie. Niemand het daarvoor verantwoordelikheid aanvaar nie en niemand weet hoe dit verdwyn het nie. Sê-nou dit is die Bybelse besoeking van die misdaad van die Vaders... Eindelose ellende is ons voorland! Sê-nou geld is nie die dryfveer agter elke hoë staat- en semi-staatsdienspos nie; sou daar nog so ’n stormloop daarvoor gewees het? Sê-nou ons nuwe burgemeester besef dat munisipale nuusbriewe nie gelees word deur derduisende inwoners van ons Vallei nie omdat hulle of nie Engels- of nie leesmagtig is nie, sal dit die beëindiging wees van papier-, tyd - en geldverkwisitng? Sê-nou, my verwensing van elkeen wat die afgelope jaar wederregtelik my eiendom vir skroot verkoop het, het waar geword, dan sou die mediese wêreld stom gestaan het voor die verskynsel van mense met ’n agterstevoorom kop, agterstevoorom linkervoet en regterhand. Sê -nou die hipokriete wat dit lees en na hul asems snak oor my onchristelikheid, gebruik hul energie en asems om die skroothandelaars se ingesteldheid rondom sekere besigheidsbeginsels aan te spreek... Sê-nou ek het nie Baviaanskloof aangedurf nie omdat ons nie ’n 4x4 voertuig het nie, dan het ek nooit gesien dat “kaalvoet oor die Drakensberge” sterk kompetisie gehad het deur onverskrokke nedersetters nie. Ook nie dat in Suid-Afrika plase bestaan waar huis en haard nie dag en nag beveilig word deur geëlektrifiseerde heinings, alarmstelsels, diefwering of slot en grendel nie. Sê-nou iemand glo my nie? Gaan kyk; wetend dat dit sewe ure neem om 90 kilometer deur die Baviaanskloofreservaat te ry, maar met dié bonus dat u vir daardie tydperk in die paradys is, sonder ’n slang. Ek sê nou: Dis oneties om aanspraak te maak op welsynshulp nadat jy jou lewensverdienste toevertrou het aan ’n toordokter en alles verloor het. Sê-nou hebsugtiges leer hieruit, dan is dié soort skelms sonder werk. Aan diegene wat my hieroor verbaal wil stenig: Sê-nou “you put your money where your mouth is” dan is hierdie mense se probleem onmiddellik opgelos.
More
News
|