Rugbytelbord
2011-06-15
BLUES KORT DISSIPLINE Die eerste rugbyspan van Lower Paarl (Blues) het nog nie eers verlede week se oorwinning oor Vineyards behoorlik afgesluk nie, toe loop hulle hulle vas in Simondium. Simonduim het dié stryd met 36-31 gewen. Swak verdediging, dissipline wat haper en verbroude geleenthede om punte aan te teken was kenmerke van die Blues se spel. Drieë vir Blues is gedruk deur Randell Hefca, Randy Hill, Guron Kulsen, JP Daniëls en Ryan Carolissen. Bjorn Winkhow het drie doelskoppe oorgeklits. Blues se tweedes wen met 8-6 en die derdes met 19-8. Eerskomende Saterdag speel die Blues teen Albions op die Dal Josafat-velde. ) ALBIONS WYS KARAKTER Albions het Saterdag weer gewys dat hulle karakter het toe hulle ’n agterstand teen Allandale uitgewus het en uiteindelik met 25-22 gewen het. Allandale het vroeg punte aangeteken nadat ’n strafskop aan hulle toegeken is, maar kort daarna het Ashwin Williams vir Albions oorgeval vir ’n drie. Daarna kry Albions die wind van voor met swak dissipline en staan vier suksesvolle strafskoppe af om die telling met rustyd 15-5 in Allandale se guns. Met die ruskans het daar seker harde woorde geval, want toe kom Albions terug met mening. Dit was veral Jy-wayne Cyster (senter) wat sy ding gedoen het en ook met die speler van die wedstryd-titel beloon is. Marvin de Bruyn, heelagter, het ook gewys dat daar nog groot rugby van hom verwag kan word. Driedrukkers was Shane Waries, Elrico Pietersen, Williams en Carlyle Williams. Lincoln du Preez het met ’n skepdoel geslaag en Carlyle Williams het een drie verdoel. Albions se tweedes wen met 26-15 en die derdes verloor met 5-17. WENNERS. Violets het Saterdag hulle liga-wedstryd teen Young Gardens op die Dal Josafat-stadion met 33-3 gewen. Vir Violets het Cedric “Delight” Williams saam met Norman Dirk Kermis en William Hendricks uitgeblink. Violets se tweedes het met 7-0 gewen en die derdes het 0-0 gelykop gespeel.
More
News
|