Bergfietsers moet solank die kettings olie
2011-06-15
INSKRYWINGS vir Die Burger-bergfietswedrenne wat op 30 Julie op Stellenbosch aangebied word, het reeds geopen en diegene wat wil deelneem, moet gou speel, want die inskrywings sal tot 3500 beperk word. Die inskrywings sluit op 18 Julie. Dié byeenkoms, in samewerking met die Simonsberg Bewarea, word vir die sesde keer aangebied en sal op 30 Julie by die Marköttervelde (Paul Roos Gimnasium) in Stellenbosch plaasvind. Vanjaar is die byeenkoms ook deel van die Stellenbosch Wynfees. Deelnemers kan weer eens uitsien na vier skilderagtige, dog uitdagende, roetes wat vir beginners en ervare jaers voorsiening maak. Volgens Meurant Botha van Dirtopia, vloei die bergfietsuitdaging se roetes deur meer as 20 wynplase, en bergfietsryers sal die kans gegun word om van die land se mooiste en beste roetes aan te pak. Die 60km-roete loop deur verskeie plaaslike klowe en moet slegs deur fikse bergfietsryers met ondervinding aangedurf word. Vir meer inligting oor die byeenkoms, besoek www.dirtopia.co.za of stuur ’n epos aan theteam@dirtopia.co.za. Belangstellendes kan ook die Dirtopia Trail Centre skakel by 021 884 4752 vir navrae.
More
News
|