Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Roses korrel skeef

Roses korrel skeef
 
2011-06-15


DIE Wellingtonse kampioen rugbyspan, Roses United, het verlede Saterdag onverwags op Pelikaanpark met 22-24 teen Wesbank verloor.

Die bonuspunt wat Roses uit dié wedstyd verdien het, was egter genoeg om hulle te laat kwalifiseer vir die Nasionale Klubtoernooi wat later vanjaar beslis sal word.

Ten spyte van die naelskraap-nederlaag, beklee die Rose ook steeds die boonste posisie op die punteleer van die Boland Premierliga.

Verlede Saterdag se wedstryd was weer gekenmerk deur klipharde voorspelerspel. Beide spanne se agterspelers het ook opwindende agterlynspel opgedis.

Die Wellingtonners het aanvanklik die septer geswaai, maar Wesbank het met twee vinnige drieë gesorg dat Roses vir die res van die eerste helfte op die agtervoet was.

Die Wesbankers kan hulle egter ietwat gelukkig ag dat die skeidsregter hulle nie meer gestraf het vir ontoelaatbare spel by die afbreekpunte nie.

Roses United het ná rustyd egter met mening teruggeveg. Ná twee skitterdrieë deur Angelo Booyse en Wayne Matthee het dit gelyk of Roses hulle teenstanders sou stoomroller.

Met tien minute se spel oor het Roses nog met agt punte voorgeloop. Gebrekkige konsentrasie het egter daartoe gelei dat die besoekers ’n weggeedrie gedruk het wat ook suksesvol verdoel was.

Hierna was die wedstryd met 22-21 op ’n mespunt vir die laaste paar minute. In die heel laaste beweging van die wedstryd het die besoekers ’n strafskop afgedwing.

Nevin Edas was suksesvol met die strafskop-poging om sodoende ’n bittersoet sege aan Wesbank te besorg.

Voorlangs het Hyco Jacobs letterlik en figuurlik vir Roses uitgetroon in die lynstane.

Jacobs, wat baie balle in die lynstane van Wesbank afgeneem het, het ook saam met Gerhard Goosen geskitter in die vastelos.

Ander uitblinkers voorlangs was Ignatius Korabie en Keenan Fortuin. Agterlangs het Wayne Matthee en Angelo Booyse uitgeblink.

Vir die Wellingtonners het Martin Nel, Angelo Booyse en Wayne Matthee elk ’n drie gedruk. Matthee was suksesvol met twee doelskoppe terwyl Neville Adams met een strafdoel geslaag het.

Roses speel eerskomende Saterdag teen Darling op laasgenoemde se tuisveld. Hulle stelskoppers sal hierdie week baie skaafwerk moet doen om die korrels in te stel.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za