Atlete begin strek vir naweek se SA 10km Kampioenskap
2005-10-20
DIE laaste nasionale atletiekkampioenskap vir die huidige seisoen, die SA 10km Kampioenskap, vind Sondag in Durban plaas.
Boland Atletiek het ’n jong span ingeskryf ter voorbereiding vir die 2006 seisoen en plaaslike atlete maak ’n derde uit van die 15-man span wat gekies is.
Die kies van ’n jong span is in lyn met Boland se strategie om ’n nuwe generasie middel- en langafstand-atlete te ontwikkel wat in die nabye toekoms nasionaal en internasionaal mededingend kan wees.
Van die vyf plaaslike atlete is vier dan ook juniors - Godwill Blou (Weltevrede SS), Malisole Mpayipheli (Wellington AK), Henrico Rooi (New Orleans SS) en Karin Levack (Weltevrede SS).
Die Wellington-atleet Nkosana Mponeng is die senior atleet wat in die span ingesluit is.
Die Boland het die afgelope jaar reeds verskeie suksesse beleef, met atlete soos Garreth Maarman, Dewayne Mouries, Lorenzo Blaauw (Saldanha) en die Paarliete Henrico Rooi en Jo-Ann Williams wat almal vanjaar reeds op nasionale vlak medaljes gewen het.
Maarman en Mouries het ook vanjaar hul land op internasionale vlak verteenwoordig.
Die Boland 10km-span vertrek reeds môre na Durban.
Die ander atlete in die span is (Juniors) Rodger Davids (Robertson AK), Rowan Prins (Robertson AC), Claudia Beukes (Cloetesville SS), Katriena van Rooi (Ceres SS), Hannelie Pekeur (Luckhoff SS), Naomi Brand (Stellenbosch HS), (Seniors) Dawid Gouws (Ceres AK), Warren Pietersen (Robertson AK), Magrieta Smith (Eskom Gijimas AK), Eveline Julies (Maties AK).
Talent-identifiseringsbyeenkoms
Intussen begin die 2006 Baan- en Veld-seisoen ook vandeesweek in alle erns wanneer Boland Atletiek sy jaarlikse Talent-identifiseringsbyeenkoms Saterdag op Daljosafat Stadion aanbied.
Dié byeenkoms sal atlete ’n laaste geleentheid gee om die keurders se oog te vang voordat ’n voorlopige span gekies sal word ter voorbereiding vir die komende atletiekseisoen.
Die voorlopige Boland Atletiekspan vir 2006 sal vroeg volgende maand aangekondig word.
Die byeenkoms begin om 08:00 en programme is beskikbaar by die Boland Atletiekkantoor.
More
News
|