Ryers kan uit vier roetes kies
2011-06-23
DEELNEMERS aan Die Burger-bergfietswedrenne wat op 30 Julie op Stellenbosch aangebied word, kan weer eens uitsien na vier skilderagtige, dog uitdagende roetes wat vir beginners en ervare jaers voorsiening maak. Dié byeenkoms, in samewerking met die Simonsberg Bewarea, word vir die sesde keer aangebied op 30 Julie by die Marköttervelde (Paul Roos Gimnasium) in Stellenbosch. Vanjaar is die byeenkoms ook deel van die Stellenbosch Wynfees. Inskrywings het reeds geopen en diegene wat wil deelneem, moet gou speel, want die inskrywings sal tot 3500 beperk word. Inskrywings sluit op 18 Julie. Volgens Meurant Botha van Dirtopia vloei die bergfietsuitdaging se roetes deur meer as 20 wynplase en bergfietsryers sal die kans gegun word om van die land se mooiste en beste roetes aan te pak. Die 60km-roete loop deur verskeie plaaslike klowe en moet slegs deur fikse bergfietsryers met ondervinding aangedurf word. Steil klimme, tegniese afdraandes en enkelspoor-paadjies sal aan die orde van die dag wees. Die wenner behoort dié roete binne drie uur baas te raak, terwyl die res van die veld sowat vier of vyf uur sal neem. Die 42km-roete is net so taai soos die 60km-opsie en ook nie vir beginners nie. Dié roete is ’n spieëlbeeld van die 60km tot by die Delheim Wynlandgoed, waar ’n kortpad die ryers na die R301 en Stellenbosch sal terugneem. Die 30km-roete volg ’n relatief plat roete na Spier en is perfek vir diegene wat dink die 15km sal te kort wees, maar nie lus voel om die 42km-roete aan te durf nie. Sedert hierdie roete in 2008 bekend gestel is, is dit een van die mees gewilde roetes. Die 15km-prettrap is perfek vir beginners en gesinne met kinders en is ’n verkorte weergawe van die 30km-roete. Dié wedrenne is ’n byeenkoms waar jy jou wegspring-posisie vir die Cape Argus Pick n Pay-bergfietsuitdaging in 2012 kan verbeter. ’n Giant Revel bergfiets ter waarde van R2750 kan ook met die gelukkige loting gewen word. Vir inligting besoek www.dirtopia.co.za of stuur ’n epos aan theteam@dirtopia.co.za. Belangstellendes kan ook die Dirtopia Trail Centre skakel by 021 884 4752 vir navrae.
More
News
|