Volg Mandela se voorbeeld
2011-06-23
ONS moet die visie van Mandela eer. Só het die beskermheer van die Paarl Jeuginisiatief, dr Franklin Sonn (oudrektor en oudambassadeur), gesê toe hy onlangs die jeuglede en ander belanghebbendes toegespreek het in die Paarl. Dr Sonn het die John Martin Gedenklesing gelewer om die bydrae van wyle John Martin tot die ontwikkeling van die jeug en die bou van brûe in die gemeenskap te eer. Martin, een van die eerste direkteure van die Paarl Jeuginisiatief, is in Julie verlede jaar oorlede. Hy was ’n jarelange vriend van dr Sonn. Sonn het die jongmense aangemoedig om te lewe volgens hul eie definisie en nie die populêre mening nie. Hy het gepleit vir eerlikheid, diensbaarheid en deelsaamheid wat uitstaande eienskappe was van John Martin. Volgens dr Sonn is die Nuwe Suid-Afrika gebou op rekonsiliasie en nie-rassigheid, asook deelwording van die beste wat die groter wêreld bied, en hy het die jongmense geïnspireer om hulle opnuut tot oudpresident Mandela se visie te verbind. Dr Sonn is bekommerd oor die hoë vlak van grypsug en korrupsie in die land. “Ons doel in die lewe is nie om rykdom te verwerf nie, ons verdien geld sodat ons kan lewe en ander kan dien. Ons verwerf ook nie geleerdheid ter wille van status nie, maar leer sodat ons ons werk goed kan doen,” het Sonn gesê. * Franklin Sonn has advised members of the Paarl Youth Initiative to model their lives on that of Nelson Mandela.
More
News
|