Soos skepe in die nag
2011-06-23
Francois Verster
''n NUWE film wat handel oor die slaweskip “Meermin” wat in 1766 deur slawe oorgeneem is en by Struisbaai gestrand het, het daartoe gelei dat ek meer inligting aangaande skepe van daardie tyd gesoek het. In die proses het ek ontdek dat die VOC vier skepe met die naam “Parel” besit het. Nie “Paarl” nie, maar albei spelwyses dui op dieselfde ding: ’n mooi objek. Waar óns Paarl verwys na groot granietkoepels, wat glo soos pêrels in die son geblink het toe die eerste Hollandse ontdekkers van Kaapstad ooswaarts gereis het, het hierdie vier skepe nie nes pêrels gelyk nie, maar was hulle vir hulle eienaars kosbaar. Dalk mooi ook. Ek het na die eerste Parel se beskrywing gaan kyk: die skip was ’n jag, wat as volg beskryf word: “Ongeacht hun grootte hadden de schepen van dit type drie masten: de fokkemast, de grote mast, en de bezaansmast.” Parel Nommer Een was tussen 1631 en 1632 in gebruik en ná ’n storm waartydens dit beskadig en toe herstel is, verdwyn dit van die geskiedenisboeke, met geen aanduiding wat daarna met dié skip gebeur het nie. Waarskynlik lê dit sedertdien iewers in die dieptes – in ’n ongemerkte watergraf vir onbekende seevaarders. Parel Twee is in Amsterdam gebou in 1651, dus in die jaar toe Van Riebeeck na die Kaap de Goede Hoop vertrek het, óók uit Texel. Hierdie Parel het 11 maal tussen Nederland en die Ooste gereis, en elke keer wat dit by die Kaap aangedoen het, is opgeteken. Van Riebeeck se verversingspos is dus goed benut. Hierdie Parel (Twee), met ’n tonnemaat van 1100, is deur die VOC gebruik tot 1659, waarna dit verkoop is in Batavia (die Hollandse handelsryk in die Ooste). Wat plaaslike gebeure betref; in 1687, dus tussen die bou van Parel Twee en Parel Drie, het die Vryburgers hier langs die Bergrivier grond ontvang en die volgende jaar het die grootste gros Hugenote aangekom. Parel Drie is ook in Amsterdam gebou, in 1738, en was in gebruik tot 1747 – skaars een dekade. Met ’n tonnemaat van 600; dus ’n veel kleiner vaartuig as die vorige een, is Parel Drie deur 100 matrose beman. Die skip het van 11 April tot 21 Mei 1739 by die Kaap aangedoen – meer as ’n maand lank. Ons kan aanneem dat talle van die bemanning siek was (dit was dikwels die geval) en eers in die hospitaal in Kaapstad aangesterk het voordat die reis na Batavia hervat is. Parel Vier is in 1778 gebou, weer eens in die Amsterdamse skeepswerf en is tot 1785 gebruik. Gedurende dié tydperk het die Industriële Revolusie in Brittanje begin, die Noord-Amerikaanse Vryheidsoorlog (teen Brittanje) het gekom en gegaan en die Franse Rewolusie sou vier jaar later uitbreek. Hierdie Parel was 50 meter lank en 1150 ton. Die skip se geskiedenis lui: “Na aankomst te Batavia van haar eerste reis, op 5 juli 1780, gaat de ‘Parel’ door naar China. In 1780 loopt de ‘Paerl’ Canton binnen. “In januari 1781 vertrekt zij weer uit Canton. Op de thuisreis wordt het schip door de Engelsen in 1781 veroverd in de Saldanha-Baai tijdens de Vierde Engelse Oorlog (1780-1784). “Op haar tweede reis naar de Oost verloor de ‘Parel’ tijdens een hevige storm haar voorste mast en boegspriet. Daarom moest het schip naar Tiago van 30 januari tot 30 maart 1785 voor reparatie.” Gedurende die vyf retoervaarte tussen Nederland en Batavia, het hierdie Parel vier maal by die Kaap aangedoen in 1779, 1784, 1781 en 1787. Ons weet ook dat die ou Hollanders nie hul pêrels voor die swyne gewerp het nie – vir hulle was ’n pêrel iets mooi om te aanskou en te waardeer. Daar is ’n emotiewe assosiasie. Soos ons jeens ons Paarl ervaar. Deur die eeue het hier baie skepe langs ons kus verbygevaar, sommige waarvan ons nie eens die name weet nie, laat staan nog dié van die bemannings, waarvan duisende ter see gesterf het. Ons weet egter van vier skepe wat ’n mooi naam gedeel het. Met mekaar en met ’n mooi dorp.
More
News
|