NA aanleiding van die berig van 9 Junie oor rugbyvoorvalle wil ek as ’n Blues Boy net my weergawe van die betrokke dag deurgee, want Blues is nie die skurk in die verhaal nie, en dit is ook nie waar dat Vineyards totaal onoorwonne was vir drie jaar nie.
Verlede jaar speel die spanne in die eerste ronde gelykop en in die tweede ronde wen Blues (ons sal maar nie sê vir wie nie) en in 2009 deel ons die rondes.
Reeds by vanjaar se tweede span-wedstryd het gevaarligte geflikker. Ek was Blues se grensregter en Vineyards het ook een gehad.
So deur die wedstryd het manne mekaar geruk en pluk, maar die wedstryd het voortgegaan tot laat in die tweede helfte toe twee manne aan my kant van die veld mekaar behoorlik groet.
Ek het probeer om te keer maar in ’n oogwink was die res van die spelers bo-oor my en ek het my onttrek totdat ek sien ’n Blues-speler word getrap.
Ek sien toe dat dit my Vine- yards-kollega (die lynregter) is wat van oorkant af gekom het om sy deel behoorlik by te dra.
Ná die wedstryd afgeblaas is, het Vineyards se bestuurslede geweier om die lynregter se naam aan die skeidsregter te gee en gesê dat hy nie deel van hulle is nie.
Die eerste spanne het mekaar in ’n baie harder, aanskoulike en spannende wedstryd gepak. Dit was ’n wipplank-wedstryd wat toe in die laaste minuut deur die Blues gewen is.
Blues se speler duik oor vir ’n wendrie en ’n Vineyards-speler wat nie deel was van die onmiddellike verdediging nie, kom nader en slaan die driedrukker met die vuis. Dit was toe die begin van ’n lang einde.
Die spelers takel mekaar baie gou en die doelskop moet nog kom (dankie dat dit nie die uitslag moes bepaal nie) wat toe sommer ’n skop sonder doel was. En die gort is so gaar dat spelers die geveg wil voortsit.
Die Blues-spelers trek saam in die middelveld. Dit was die regte ding om te doen en ons is trots op julle.
Onmiddellik is die speelveld ná die eindfluitjie vol toeskouers en beledigings en vuishoue word uitgedeel, selfs deur gesienes in die gemeenskap.
As drank nou die skuld moet kry, dan het selfs die tannies wat my ná die tyd wou pak, ook gedrink. Dit is nie drank nie, maar jou geaardheid wat gedryf word deur versoeking wat die oorhand kry, nugter of dronk.
Let wel, ek sal graag wil sien dat drank langs die sportvelde iets van die verlede sal wees. Vir elke aksie is daar ’n reaksie.
Aan Blues-ondersteuners vra ek dat ons gedrag moet pas by die spel wat ons spelers oplewer en dat dit te alle tye goeie gedrag sal wees.
Granville Fortuin