Ge-rica? Dalk die bron van gemorspos
2011-06-23
HET jy al jou selfoon-simkaart “ge-Rica” oftewel geregistreer volgens die nuwe Wet op die Onderskepping van Inligting en Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting? Of is jy een van duisende wat dit nie ernstig opneem nie en dalk op Vrydag 1 Julie van die lug gaan “verdwyn”? Daar is twee uiteenlopende sienings oor die saak. Die amptelike weergawe is dat Rica aan wetstoepassers die reg gee om selfoongebruikers te identifiseer en kriminele wat selfone in hul misdade gebruik te kan opspoor. Wat ’n groot groep uitgesproke teen-Rica-aktiviste pla, is dat Rica, luidens die opstellers “nie ontwerp is om direkte bemarking of spam-SMS’e te voorkom nie.” Nou wat is die punt dan van die hele oefening? Nicola Mawson, ’n senior joernalis by ITWeb, het in haar ondersoek bevind dat mense wat reeds ge-Rica het nou oorval word met elektroniese selfoongemorspos, spam-SMS’e. Selfoonmaatskappye met wie Mawson gepraat het, hou vol dat hul databasisse veilig is, maar erken in dieselfde asem dat die wet níé voorskryf hoe persoonlike detail beveilig moet word nie. Net ’n “klein getal personeel” het toegang tot die inligting, maar dit kos net een skelm! Dus is dit bykans onmoontlik vir verbruikers om iets daaraan te doen indien hulle inligting uitlek, want die verbruiker moet nou die oorsprong van die lek kan uitwys, wat meestal onmoontlik is. Goeie nuus is dat vereniging van koordlose diensverskaffers (Waspa) van Suid-Afrika so pas hulle beleid aangepas het om aan te pas by die nuwe Wet op die Verbruikersbeskerming asook die Beskerming van Persoonlike Inligting om verbruikers te beskerm teen direkte bemarking, advertensies en promosies. Luidens die nuwe kode moet lede van Waspa verbruikers van ’n “stop”-keuse voorsien of ’n ander keuse om uit die voorgestelde diens te kom in alle gevalle waar direk bemark word. Enige SMS in die proses mag nie meer as R1,50 kos nie. Stuur jou verbruikersprobleem na aanjoukant@media24.com.
More
News
|