Paarl-Oos boul Bergrivier voos
2005-10-20
DIE verwoestende boulaanval van Paarl-Oos se Elroy Abrahams het Saterdag sy span se sege oor Bergrivier Krieketklub gelei.
Abrahams het met ’n boulontleding van 4/11 gespog nadat hy die tuisspan se kolflys aan flarde geboul het.
Danksy die goeie ondersteunende rolle van Nico Jonck (3/18) en Waylain September (2/32) is Bergrivier tot 134 lopies beperk.
Die tuisspan was op een sta-dium goed op dreef met die telling op 62/1. Met die toetrede van Abrahams het die prentjie egter vinnig verander en was sake eensklaps 74/5.
Marquin Julies (40 4x1, 6x2) en Morné de Vries (33 4x5) was die enigste Bergrivier-kolwers wat dubbelsyfertellings kon behaal.
Alles het egter ook nie klopdisselboom vir die besoekers verloop nie.
Die Paarliete was vroeg in die moeilikheid op 28/3, maar vasberade vertonings deur Shane Cuttings (46 4x3), Roswin Jephtha (39 4x6, 6x1) en Bruce Miller (22 4x3) het ’n vyfpaaltjie-oorwinning vir Paarl-Oos verseker.
Ashwil de Vries (2/41) was Bergrivier se beste bouler.
Paarl-Oos se Reserwe Liga-span was ook baas in hul kragmeting teen Bergrivier II op Allandale.
Bergrivier het ook hier gesukkel en kon net 112 aanteken.
Heinrich Albertus (40 4x4, 6x1) en Adrian Dreyden (39 4x1) het hier die beste gevaar, maar dit was die boulwerk van Justin Watts wat die oog gevang het.
Watts se 6/17 was die beste vertoning wat dié regshandige draaibalbouler nog gelewer het.
Dit was hierna met min moeite wat Shane Cuttings (44 4x4) en Mark Borchards (44nun 4x2, 6x5) die sege van agt paaltjies vir die Paarliete kon verseker.
Paarl-Oos III (113) moes die knie buig teen Brackenfell (240).
Bergrivier I (tuis) en II (weg) speel Saterdag teen Malmesbury.
Paarl-Oos I (weg) en II (tuis) speel Saterdag teen Peoples op Daljosafat. Paarl-Oos III speel teen Van der Stel op Stellenbosch.
More
News
|