Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


So rats soos 'n Klipspringer

So rats soos 'n Klipspringer
 
2005-10-20

Leon Steenkamp

VRA haar om ’n bal vir jou te vang en sy doen dit lag-lag.

Bea Oberholzer se ratsheid op die baan is nie te betwyfel nie, daarvan getuig haar insluiting in verskeie provinsiale spanne.

Dié 15-jarige van La Rochelle speel al netbal vandat sy sewe jaar oud is, maar het vanjaar vir die eerste keer provinsiale kleure ontvang toe sy in die Boland o.16 span opgeneem is.

“Ek kon dit vanjaar regkry omdat ek geen beserings opgedoen het nie,” sê sy met ’n glimlag en vertel hoe sy haar knie se kruisligamente geskeur het tydens verlede jaar se finale proewe vir die o.15 Boland netbalspan.

Die blondekop het egter besluit om vanjaar ook ’n ietsie anders te probeer en in Maart begin korfbal speel.

Haar netbal-agtergrond en natuurlike veerkragtigheid het daartoe gelei dat sy sommer gou-gou in die Boland vrouekorfbalspan opgeneem is.

Die span het dan ook baie goed gevaar by die nasionale kampioenskap waar hulle ’n silwermedalje gewen het.

In September is Bea weer in ’n Boland-korfbalspan ingesluit, dié keer vir die o.17 meisiesouderdomsgroep.

Dit is die eerste keer dat die Boland Korfbal Unie junior provinsiale spanne aangewys het.

Die Paarliet het weer die keurders se oog gevang en is in die SA o.17 Skolespan opgeneem.

Dié span het die afgelope naweek in Kemptonpark teen die SA o.19 Skolespan en ’n SA o.17 Uitnodigingspan gespeel.

Bea se span het teen die o.19’s vasgeval, maar 32-19 teen die uitnodigingspan geseëvier.

Hulle speel weer op 29 Oktober in vertoonwedstryde op Brits.

Die Larrie is dan ook vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer in die WP Aksie-netbalspan opgeneem.

Aksie-netbal word onderdak, op ’n matoppervlakte, gespeel met ’n baan wat deur nette omring word, soortgelyk aan ’n aksie-krieketbaan.

Bea speel vir die Portland Roxies Aksie-netbalklub in Brackenfell.
Sy beaam dat vinnig rondspring en die vang van ’n bal ’n aktiwiteit is waarin sy uitblink.

Snaaks genoeg speel sy in ’n ander posisie op die korfbalbaan as op die netbalbaan.

“In netbal speel ek enigiets behalwe verdediger, maar in korfbal speel ek nét verdediger.”

Dié verskil in aanslag skryf sy toe aan die verskillende manier van aanval en verdediging in die twee sportsoorte.

“Ek is baie sterker op die stilstaande verdedigingstegniek van korfbal eerder as in netbal waar die aanvallers baie meer beweeg.”

Maar in watter een van dié drie sportsoorte sou sy eendag haar merk wil maak?

“Ek sou graag eendag vir die Proteas wil speel, maar as die kans hom sou voordoen sal ek eerder Internasionale Korfbal wil speel,” sê Bea, maar voeg vinnig by dat die reëls van Internasionale Korfbal
verskil van die korfbal wat sy nou speel.

“Dit is ’n sport wat baie gewild is in Nederland. Die Boland
Korfbalunie het dit ophou speel weens ’n gebrek aan belangstelling.

“Die Unie kyk egter daarna om miskien volgende jaar weer Internasionale Korfbal aan te bied,” vertel Bea, ’n lid van die Paarl
Korfbalklub.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za