DIE Bergrivierprojek ten bate van die Kinderkankerstigting van SA (Choc) skop in die Paarl af op Woensdag 20 Julie om 10:00.
Dié fondsinsamelingsprojek gaan konserte en veilings langs die roete van die rivier aanbied. Op 20 Julie om 10:00 sal die kunstenaars Danie Niehaus, Andries Vermeulen, Rooies, Fanie Veldskoen en Allan Hughes voor die aanvang van die projek ’n krans in die rivier lê ter nagedagtenis aan die sanger Lukas Maree wie onlangs aan kanker oorlede is. Hulle sal ook by die primêre skole Bergrivier, Rondeheuwel en Charl Schrewe wat langs die Bergrivier geleë is, geskenkpakkies en opvoedkundige materiaal aan die leerders uitdeel.
Elke aand tydens die vaart word konsert gehou, op 20 Julie by die Allesverloren Wynlandgoed op Riebeek-Wes, op Donderdagaand 21 Julie saam met Wikus van der Merwe by die Misverstanddam buite Moorreesburg en op Vrydagaand 22 Julie in die skoolsaal van die Hoërskool Vredenburg. Die projek eindig op 23 Julie om 13:00 voor die Sunset Villas op Laaiplek.